Type a search term to find related articles by LIMS subject matter experts gathered from the most trusted and dynamic collaboration tools in the laboratory informatics industry.
Kaart (provinsie) | Wapen |
Vlag | |
Land | Italië |
Gewes | Veneto |
Provinsie | Treviso (TV) |
Koördinate | 45°40′N 12°15′O / 45.667°N 12.250°O |
Stigting | 89 v.C. (Tarvisium) |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 55,58 vk km |
Hoogte bo seevlak | 15 m |
Bevolking: | |
- Totaal (31 Desember 2018) | 85 365 |
- Bevolkingsdigtheid | 1 542,2/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Klimaat | |
- Tipe | Gematigde seeklimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 14,0 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | 3,3 / 24,6 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 893,34 mm |
Burgemeester | Mario Conte (Lega Nord) |
Amptelike webwerf | comune.treviso.it |
Treviso (Italiaans: [treˈviːzo], ; Venesiaans Trevizo, [tɾeˈʋizo]) is 'n welvarende nedersetting en munisipaliteit (comune) in die Noordoos-Italiaanse streek Veneto met 'n bevolking van meer as 85 000. Na sy inwoners word in Italiaans as trevisani of trevigiani verwys.[1] Die laasgenoemde is afgelei van Trevigi of Trivigi, twee historiese naamvariante.[2]
Treviso, wat as administratiewe setel van die gelyknamige provinsie dien, is in die Venesiaanse vlakte by die samevloeiing van die Botteniga- en Sile-riviere geleë, sowat 30 km noord van Venesië en 40 km noordoos van Padua – temidde van die historiese landskap Marca Trevigiana (in Italiaans dikwels kort la Marca genoem), 'n vrugbare landboustreek waar bronwater volop is. Die Botteniga-rivier, ook bekend onder sy historiese naam Cagnan, vloei vanuit 'n noordelike rigting deur die historiese stadskern waar dit in verskillende rivierarms vertak voordat dit in die Sile uitmond. Net soos in Venesië is langs Treviso se rivierarms en kanale sypaadjies (Italiaans: fondamente) en booggange (sottoportici of sottoporteghi) aangelê.[3]
In ekonomiese opsig word die stadsnaam verbind met wêreldrolspelers soos De’Longhi en Benetton – twee ondernemings wat hul oorsprong in Treviso het en steeds vanuit die stad bestuur word – en sy Antonio Canova-lughawe (een van drie in Venesië en sy omgewing – genoem na die befaamde Venesiaanse neoklassieke beeldhouer wie se borsbeeld hier vertoon word).[4] Dit is veral gewild by laekosterederye soos die Ierse Ryanair en hanteer jaarliks meer as drie miljoen passasiers. Treviso is daarnaas een van Italië se modemetropole – met bekende mode-etikette wat hul hoofkwartiere in die nabye omgewing het en 'n groot verskeidenheid modeboetieke. Vir fynproewers bied Treviso 'n groot keuse van eersterangse restaurante en osterie.
Treviso, wat reeds in die antieke tydperk deur Kelte gestig is en in die 1ste eeu v.C. Romeinse stadstatus toegeken is, het sy bloeitydperk tussen die 12de en 14de eeu beleef. Die elegante paleise op die plein Piazza dei Signori, waaronder die ou raadsaal Palazzo dei Trecento (begin in 1185 en genoem na die 300 lede van die stadsraad) in die Romaanse styl, dateer uit hierdie periode. Middeleeuse digters het na Treviso weens sy rustige en gesofistikeerde atmosfeer as "hoofse stad" of città cortese verwys. Treviso was 'n sentrum van hoofse kultuur waar gereeld ridderspele gehou is; vandaar die Middeleeuse bynaam Marca gioiosa et amorosa vir die stad en sy omgewing.
Nadat Treviso in die 14de eeu as eerste stad op die vasteland onder die bewind van die Republiek Venesië gekom het, het dit 'n lang periode van politieke stabiliteit en ekonomiese welvaart beleef. Die stad en sy omgewing was een van die gunstelingplekke van welvarende Venesiane wat hier in die 18de eeu paleise as somerverblyf laat bou het.[5]
Van Treviso se belangrikste argitektoniese besienswaardighede is die ryklik versierde fasades van woongeboue, veral in die stadsbuurt Calmaggiore. Hierdie tradisie het sy oorsprong in die Middeleeue toe plaaslike families gewedywer het om hul woonhuise, wat weens 'n gebrek aan waardevolle stene as boumateriaal hoofsaaklik van bakstene en hout gebou is, ten minste met kunsvolle en kleurryke fresko's te versier. Hierdie versierings het aan Treviso die bynaam "die geskilderde stad" (Latyn: urbs picta, Italiaans: Città Dipinta) besorg. Afgesien van die skade wat die historiese middestad in die twee wêreldoorloë gely het, het die Middeleeuse stadsbeeld die negatiewe gevolge van moderne stads- en verkeersbeplanning gespaar gebly. Die meeste fresko's het nogtans verlore gegaan.
Terwyl riviere en kanale aan Treviso sy besondere karakter gee, verg die stad se historiese argitektuur groot aandag. Talle woonhuise is regstreeks oor die waterlope opgerig waar fondamente aan erosie blootgestel is – net soos in Venesië. In Julie 2018 is nuusberigte oor omvattende erosieskade aan 'n 16de eeuse palazzo oor die Cagnan-kanaal in via San Leonardo gepubliseer. Die gebou is deur ineenstorting bedreig.[6]
Volgens 'n teorie is die stadsnaam "Treviso" ontleen aan die Keltiese woord tarvos ("bul") gemeng met die Latynse agtervoegsel -isium wat Tarvisium gee en "van die bul" beteken. Volgens 'n ander teorie is dit afgelei van 'n woord in die taal van 'n Proto-Veneties-Illiriese stam wat hulle eerste in Treviso gevestig het.[7]
Weergegewens vir Treviso | |||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Maand | Jan | Feb | Mar | Apr | Mei | Jun | Jul | Aug | Sep | Okt | Nov | Des | Jaar |
Gemiddelde maksimum (°C) | 7,0 | 9,0 | 13,0 | 17,0 | 22,0 | 26,0 | 28,0 | 28,0 | 25,0 | 19,0 | 12,0 | 7,0 | 17,8 |
Gemiddelde minimum (°C) | –1,0 | 1,0 | 4,0 | 8,0 | 12,0 | 15,0 | 18,0 | 17,0 | 14,0 | 9,0 | 4,0 | –1,0 | 8,3 |
Neerslag (mm) | 67,0 | 65,0 | 71,0 | 68,0 | 90,0 | 105,0 | 66,0 | 91,0 | 78,0 | 81,0 | 87,0 | 62,0 | 931,0 |
Humiditeit (%) | 79 | 74 | 70 | 71 | 68 | 71 | 69 | 70 | 72 | 75 | 76 | 79 | 72,8 |
Bron: ilMeteo[8] |
Die oudste nedersettings in die omgewing van Treviso dateer uit die Bronstydperk (omstreeks 1500 v.C.). Treviso het sy oorsprong in 'n Keltiese nedersetting waaraan in 49 v.C. die status van Romeinse municipium toegeken is. In hierdie tyd het die Romeinse versterkings met 'n stadsmuur ontstaan waarvan die presiese omvang en ligging nog nie deur argeoloë bepaal kon word nie. Die municipium was in elk geval op die eiland geleë wat deur die Botteniga- en Sile-riviere gevorm word en het ook langs hierdie waterweë uitgebrei. Uit oorlewerings blyk dat Tarvisium tot 'n welvarende stad ontwikkel het en vanaf 396 of vroeër die setel van 'n biskop was.
Net soos elders in Noord-Italië het die Romeinse bloeitydperk met die invalle van barbaarse volke tot 'n einde gekom, al was Tarvisium nie aan die die invallers se hoofroete na Rome geleë nie en het dit sodoende groter verwoestinge gespaar gebly. Ná die val van die Wes-Romeinse Ryk in 476 het die nedersetting as biskopsetel gedien en onder Lombardiese bewind gekom.
As administratiewe setel van die Marca Trevigiana is Treviso in 776 by die Heilige Romeinse Ryk ingelyf. As hoofstad van die Marca of grensstreek het Treviso gefloreer; keiser Karel die Grote het hier munte laat slaan. 'n Inval van Madjare (Hongare) in 899 was met 'n grootskaalse plundering verbonde. Nogtans het Treviso as belangrikste nedersetting in die Marca die status van selfregerende stadrepubliek behaal waaraan keiser Frederik Barbarossa in 1164 besondere voorregte toegeken het.
Treviso het vervolgens 'n ongekende bloeitydperk beleef waartydens die stad – as tydelike bondgenoot van die Republiek Venesië – sy magsgebied kon uitbrei tot Feltre en Belluno. Die welvaart van sy burgers is weerspieël in nuwe statige geboue en kerke en 'n ryk kulturele lewe. In hierdie periode het die Oksitaanse troebadoerliriek uitgestraal na Noord-Italië. Treviso en ander nedersettings in die Marca was gasheerstede van ridderlike feeste en troebadoer-digters; na die streek is verwys as La Marca Gioiosa – "die vreugdevolle Mark". Hierdie bloeitydperk word veral verbind met die da Camino-familie. Van die werkswinkels in Noord-Italië, waar kosbare samestellings van troebadoer-liriek, sogenaamde chansonniers, vervaardig is, was in Treviso geleë.
In 1237 het Treviso onder die tiranniese bewind van Ezzelino da Romano gekom. Dit was die beginpunt van 'n eeu van onluste en oorloë waartydens die stad gedurig van heersers gewissel het. Nogtans val die stigting van 'n universiteit in 1263 in hierdie periode.
Ná die kortstondige bewind van Cangrande della Scala het Treviso as eerste nedersetting in Veneto in 1329 vir die eerste keer by die Republiek Venesië aangesluit. Hierdie vrywillige alliansie is bevestig deur 'n besluit van Treviso se stadsraad wat op 11 Februarie 1344 geneem is. Afgesien van die kortstondige besetting deur Francesco I da Carrara (1325−1393), heerser van Padua, vanaf 4 Februarie 1384 het Treviso, nadat dit in 1388 weer deur Venesiaanse magte ingeneem is, tot die ontbinding van die Republiek Venesië in 1797 ná die inval van Franse magte, Venesiaans gebly. Treviso het as een van min nedersettings wes van Frioelië lojaal aan Venesië gebly nadat Venesiaanse magte in die Slag van Agnadello in 1509 'n verpletterende nederlaag teen die Liga van Cambrai se troepe gely het. Treviso se Venesiaanse stadsmuur en -poorte is tot vandag versier met die Venesiaanse Markusleeu as simbool van die Dogerepubliek.
Vir die administrasie van Treviso moes nuwe oplossings gevind word; nedersettings op die Italiaanse vasteland kon nie soos Griekse eilandbesittings deur feodale strukture geregeer word nie, nog kon hulle soos handelsposte bestuur word. 'n Gemodifiseerde variant van Venesië se eie suksesvolle regeringstelsel het die lojaliteit van Treviso se inwoners en later ook dié van ander vastelandse stede onder Venesiaanse bewind verseker. Die Venesiaanse doge as regeringshoof het as voorbeeld vir die podestà op die vasteland gedien wat in kleiner nedersettings capitano of provveditore genoem is; die prosedures vir sy verkiesing was net so ingewikkeld soos in Venesië. Hy was òf 'n Venesiaanse edelman òf het uit die geledere van die plaaslike bevolking gekom. Sy weelderige lewenstyl het met sy beperkte bevoegdhede gekontrasteer.
Terwyl die Venesiaanse doge verantwoordelik was aan die Raad van Tien, was die podestà in werklikheid ondergeskik aan 'n ander amptenaar, rektor genoem. Hierdie amp is steeds deur 'n Venesiaan beklee wat op sy beurt verantwoordelik was aan die Raad van Tien en die Senaat te Venesië. Die rektor was die bestuurder van polisie en het toesig gehou oor burgerlike en militêre regeringsinstellings. Daaglikse regeringsaangeleenthede en wetgewing ten opsigte van belasting, kommunikasie, stedelike geriewe en instellings het binne die bevoegdheid van 'n munisipale raad geval, vergelykbaar met Venesië se Groot Raad, wat in Treviso uit 300 lede bestaan het – gewoonlik gesiene manlike burgers. Die Venesiaanse regeringsbestel was dus nie net doeltreffend nie, maar tot 'n beperkte mate ook demokraties van aard. Onder inagneming van Venesië se politieke, ekonomiese en veiligheidsbelange kon vastelandse stede onder sy bewind dus sekere individuele vryhede bewaar.
Die 16de eeu was in Italië en elders daarnaas ook 'n tydperk van nuwe intellektuele en wetenskaplike vryhede, vry van die vorige beperkings wat deur die Kerk opgelê is, en soos weerspieël in onder meer 'n reeks wiskundige boeke wat destyds gepubliseer is. Die oudste bekende gedrukte aritmetiese werk het in 1478 in Treviso verskyn. Die outeur is onbekend; algemeen word na die werk as die "Aritmetiek van Treviso" verwys.[9]
Met die val van Napoleon Bonaparte se ryk het Treviso in 1813 onder Oostenrykse bewind gekom. In 1848 het Treviso se bevolking in opstand gekom teen die Habsburgse owerheid en 'n provisionele regering gevorm wat bestaan het tot 14 Junie. Agttien jaar later, in 1866, het die stad deel van die nuwe Italiaanse eenheidstaat geword. Die Oostenrykers se belangrikste nalatenskap was die stelselmatige uitbou van Treviso se infrastruktuur – die lewering van 'n posdiens, die bou van skole, 'n geregshof, die vismark (Pescheria) en 'n spoorlyn wat Treviso met Venesië verbind het. Die eerste segment daarvan is in 1851 geopen.
Oorlogshandelinge gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Treviso in 1917 regstreeks geraak toe Oostenrykse magte die Italiaanse frontlinie naby Coparetto (tans in Slowenië geleë) deurbreek en die provinsie Treviso binnegeval het. Groot dele van die provinsie, insluitende die stad Treviso, is verwoes, alhoewel die Oostenrykers nie daarin geslaag het om dit in te neem nie.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is voorrade vir die Duitse Weermag in Italië vanuit die stad versprei wat van Treviso 'n teiken vir hewige geallieerde lugaanvalle gemaak het. Die Amerikaanse lugaanval op Goeie Vrydag, 7 April 1944 (in Italiaans il bombardamento del Venerdì Santo genoem), wat tussen 13:00 en 13:29 uur deur 159 B-17 Flying Fortress-bomwerpers (in Italiaans bekend as Fortezzi Volanti) uitgevoer is, het eintlik Treviso se treinstasie en opstelterrein geteiken, wat dan ook volledig vernietig is, maar was nogtans so onakkuraat dat daar altesaam meer as 2 000 bomme dwarsoor die stad geval het. Tussen 1 000 en 1 600 trevisani, onder wie 123 kinders, het hul lewens verloor.[10] Groot dele van Treviso is in puin gelê, waaronder tagtig persent van die historiese geboue in die middestad. Die meeste hiervan, wat tussen die gekanaliseerde rivierarms van Sile en Botteniga geleë is, is ná die oorlog keurig gerestoureer en tot hul oorspronklike toestand teruggebring. Nogtans het 'n aantal palazzi en fresko's onherroeplik verlore gegaan.
Die oorlogsgebeure staan sentraal in Giuseppe Berto (1914−1978) se roman Il cielo è rosso ("Die hemel is rooi", 'n verwysing na die brande wat in Treviso se Centro storico gewoed het) wat in 1946 gepubliseer en vier jaar later verfilm is. Berto het sy skoolopleiding in Treviso se Liceo ginnasio statale Antonio Canova ontvang.
Ter nagedagtenis van die 123 kinders, wat in die aanval dood is, is twee gedenkstene in die Madonetta-kerk van die noordelike stadsdeel Santa Maria del Rovere opgerig. Die bevolking van Treviso herdenk die slagoffers jaarliks op 7 April om 1 uur smiddags. Alle winkels en kantore sluit hiervoor hul deure.
Treviso se bevolking is op 31 Desember 2018 as 85 002 bepaal van wie 7 571 persone in die historiese middestad (Centro storico) woonagtig was. Met 1,4 vierkante km beslaan die middestad binne die stadsmuur net ’n betreklik klein gedeelte van die munisipaliteit se oppervlakte. Die aantal buitelanders het 12 096 beloop. Die meeste immigrante is afkomstig uit Roemenië, Kosovo, die Volksrepubliek China, Moldawië en Nigerië.
Die oorgrote meerderheid van die bevolking is lidmate van die Rooms-Katolieke Kerk. Treviso is die setel van ’n Rooms-Katolieke biskop (die huidige ampsbekleër mons. Michele Tomasi, 'n boorling van Bolzano, is op 6 Oktober 2019 geïnougureer[11]), terwyl die munisipale gebied in 27 parogieë onderverdeel word, insluitende die stedelike vikariaat (vicariato urbano).
Die belangrikste plek van aanbidding vir Rooms-Katolieke Christene is die katedraal San Petro Apostolo. Hier word ook die relikwieë van Treviso se beskermheilige San Liberale bewaar wie se feesdag op 27 April gevier word. Ander belangrike kerke van groot historiese en argitektoniese belang is San Francesco, San Nicolò en die basiliek van Santa Maria Maggiore.
Die plaaslike dialek toon baie ooreenkomste met Venesiaans, veral die variant wat in Venesië gebesig word (dialetto veneziano). Die belangrikste verskille is die uitspraak van die Latynse /o/ in oop sillabes wat as /ɔ/ uitgespreek word, nie as /o/ nie (so word die Italiaanse term vir vuur, fuoco, in Trevisaanse Venesiaans fògo, nie fógo nie) en die ontwikkeling van die Latynse agtervoegsel ĕllus tot èl (die Italiaanse fratello se ekwivalent in Trevisaanse Venesiaans is dus fradèl, nie fradèo nie).
Die geskiedenis van Veneto se wol-, sy- en tekstielbedryf strek terug tot in die 14de eeu toe sywewers uit Toskane hulle as politieke vlugtelinge hier gevestig het. Tekstiele uit Veneto is na Venesië se oorsese besittings en ander Mediterreense markte uitgevoer. Omrede Venesië nie oor riviere beskik het waarlangs tekstielmeule gevestig kon word nie, is Venesiaanse tekstiele in Treviso verwerk. Treviso is steeds die setel van Italiaanse tekstielondernemings wat met hul gesofistikeerde luukse produkte soos katoen en wol en verwerkte tekstiele belangrike rolspelers op die wêreldmark is. Op 11 April 2019 was Treviso saam met Venesië danksy die inisiatief van Benetton die gasheerstad van die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO) se 88ste jaarlikse kongres wat tussen 9 en 11 April gehou is.[12][13]
Sedert die Middeleeue dien Treviso se sentrale Piazza dei Signori as middelpunt van die stedelike lewe. Hier is ook die belangrikste administratiewe geboue geleë. Gedurende die Middeleeue is groot riddertoernooie op die plein gehou, wat dikwels deur adellike gaste uit Venesië, Padua en ander stede bygewoon is, soos die festa del Castello d'amore (in eietydse kronieke, soos dié van Rolandinus Patavinus uit Padua, ludus Tarvisii genoem), 'n hoofse spel waartydens die sogenaamde minnekasteel (castello d'amore), waarin 'n aantal aantreklike jong dames opgesluit is, as deel van 'n guerra del Castello d'amore deur jong adellike mans beleër is. Die ridderfees het sy hoogtepunt met die inname van die minnekasteel bereik. Volgens historiese oorlewerings het die ridderfees, wat op Pinkstermaandag, 8 Junie 1215 gevier is, enkele maande later op 'n militêre konflik tussen Venesiane en Paduane uitgeloop – blykbaar nadat die Paduane deur Venesiaanse feesbesoekers uitgedaag is.[14]
Ridderfeeste is ook in die Loggia dei Cavalieri gehou wat voor 1276/77 in opdrag van milites (adellike ridders) naby die Piazza dei Signori opgerig is. Dit was die plek waar ridders en ander edelmanne saans byeengekom het om hul feeste en partytjies te vier, skaak of bord- en kaartspelletjies te speel, of oor politieke gebeure te debatteer. Soortgelyke logge het ook in ander Noord-Italiaanse stede ontstaan, maar die Trevisaanse loggia is uniek vanweë sy ontwerp as vrystaande pawiljoengebou met suile van wit Istriese kalksteen. 'n Granietpilaar in die middel dra die dak. Die loggia was aan die binnekant ryklik versier met 'n reeks fresko's wat tonele uit die ridderlike literatuur uitgebeeld het. Weens die omvangryke skade, wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog aangerig is, veral tydens die bomaanvalle van 1944, het net dele van hierdie meesterwerk van wêreldlike ikonografie bewaar gebly. Twee lae van fresko's word sigbaar – die oorspronklike met klassieke Romeinse motiewe wat uit die ontstaantyd dateer, soos 'n Priapus-figuur met 'n lang baard, en 'n tweede laag met tonele uit die ridderlike Europese literatuur wat teen die begin van die 14de eeu aangebring is.
Onder die Venesiaanse bewind het die loggia gaandeweg sy funksie kwytgeraak en was dit uiteindelik aan verval blootgestel. In 1550 is 'n huis daarin opgerig. Later het dit as stoorplek gedien – aanvanklik vir hout, later vir vate en selfs doodskiste. Die loggia is van sloping gered nadat die Trevisaanse stadsregering dit gekoop en laat restoureer het.
Temidde van Treviso se historiese middestad met sy talle booggange en kanale is sy 12de eeuse katedraal of Duomo di Treviso geleë wat aan die apostel Sint Petrus gewy is en as setel van die stad se Rooms-Katolieke biskop dien. Treviso se beskermheilige San Liberale (Latyn: Liberalis; 'n laat 4de eeuse Romeinse soldaat wat hom tot die Christelike geloof bekeer het en wie se fees op 27 April gevier word) lê in die katedraal se kript begrawe, net soos vroeëre biskoppe van Treviso. Opvallend is die kerk se onvoltooide kloktoring. Volgens oorlewerings is boubedrywighede op bevel van die Venesiaanse regering gestaak nadat gevrees is dat dit hoër sou word as Venesië se befaamde campanile vlakby die Sint Markus-basiliek.
Die huidige katedraal se vroegste 6de eeuse voorloper het in 'n buurt ontstaan waar in die antieke Romeinse tydperk 'n tempel, 'n teater en moontlik ook 'n badhuis geleë was. In die 12de en 13de eeu is 'n nuwe kerkgebou in die Romaanse styl opgerig wat op sy beurt in 1768 afgebreek is om plek te maak vir die huidige neoklassieke katedraalgebou. Die enigste oorblyfsel uit die Romaanse stylperiode is die katedraal se kript met die oorspronklike marmersuile. Die katedraal het drie kerkskepe, met vyf koepels oor die sentrale skip en twee verdere koepels wat oor die kapelle ontstaan het. Aangrensende geboue sluit 'n doopruim, die biskopswoning en parogiehuis in. Die laasgenoemde huisves tans 'n museum vir sakrale kuns. Die Italiaanse skrywer, digter en joernalis Giovanni Comisso (1895−1969), 'n boorling van Treviso, het na die katedraalkompleks as 'n "klein Vatikaanstad" (quasi un piccolo Vaticano) verwys.[15]
Belangrike kunsskatte in die domkerk sluit 'n Verkondiging in wat deur Titiaan, 'n boorling van die huidige provinsie Belluno, geskilder is asook verskeie werke van die Venesiaanse beeldhouer en argitek Tullio Lombardo (omstreeks 1455−1532) in. Deur die loop van die eeue is steeds weer wysigings aan die katedraal aangebring soos die portico of pilaargang wat uit die 19de eeu dateer. Die huidige fasade is in 1836 ontwerp. Ná die lugaanval van 1944, waartydens die katedraalbiblioteek deur 'n brand beskadig is, is herstelwerk aan die katedraal gedoen. Ter geleentheid van die heilige jaar 2000, wat deur pous Johannes Paulus II geproklameer is, is die katedraal van 'n nuwe orrel voorsien.
Treviso se belangrikste voorbeeld van Gotiese sakrale boukuns is die kerk San Nicolò uit die 13de en 14de eeu, met fresko's wat deur Tommaso da Modena (1326−1379) en sy studente aangebring is. Die kunstenaar het ook vir ander kerkgeboue in Treviso versierings geskep soos die fresko's in die vroeëre San Nicolò-klooster wat hooggeplaaste lede van die Dominikane-orde uitbeeld.
Treviso is die geboorteplek van die Rooms-Katolieke sosiaal-filosoof Giuseppe Toniolo (1845−1918) wat, geïnspireer deur sy romantiese visie van die Middeleeue, die Kerk as die sentrale bemiddelaar beskou het om beter lewensomstandighede vir die werkersklas te verseker.
Die vier lede van die Benetton-familie (drie broers en een suster – Luciano, Giuliana, Gilberto en Carlo), wat in 1965 die mode-onderneming Benetton Group S.p.A. gevestig het, is almal boorlinge van Treviso. Carlo en Gilberto is hier in 2018 oorlede. Gilberto se gesondheidstoestand het volgens nuusberigte versleg na die afsterwe van sy broer Carlo en nadat beskuldigings in verband met die ineenstorting van die Polcevera-viaduk in Genua teen die Benetton-familie gemaak is.
Die musikale lewe in Treviso het 'n vroeë bloeitydperk in die 13de en 14de eeu beleef toe Italiaanse en Provensaalse troebadoers, wat as gevolg van politieke ontwikkelinge genoodsaak was om uit hul geboortestreke te vlug, hulle in die distrik van Treviso kom vestig het. Hierdie digters en sangers het bekende persoonlikhede ingesluit soos Uc de Saint Circ en Sordello (wat 'n tyd lank as gas van die da Romano-gesin in Trevisdo gebly het).
Die nuwe meerstemmige Ars Nova-vokaalmusiek is danksy die groeiende kulturele kontakte tussen Florende en stede in die Veneto in Treviso ingevoer. Nicolò de Rossi, 'n magistraat wat in die eerste helfte van die 14de eeu in Treviso werksaam was, het bygedra tot die sterk invloed van Toskaanse digkuns en die musiekstyl, wat daarmee verbind is, in die Marca. Die meeste van twintig komponiste, wat hy in een van sy sonnette noem, is Toskaners. Die katedraalkoor van Treviso, wat in die eerste helfte van die 14de eeu uit 'n vroeëre koorskool ontwikkel het, het 'n vaste basis vir musikale ontwikkelinge in dié tyd gevorm.
Een van die bekendste klassieke ensembles vir Italiaanse barokmusiek, die Sonatori de la Gioiosa Marca, is in 1983 in Treviso gestig. Die strykensemble se repertoire sluit onder meer 17de en 18de eeuse Italiaanse musiek en komposisies van Antonio Vivaldi in. Aan die Sonatori is die klassieke musiekprys ICMA Award 2020 toegeken.[16][17]
Die waterryke omgewing van Treviso, 'n vrugbare vlakte, was van oudsher af 'n belangrike landboustreek, soos weerspieël in die stad se voortreflike kookkuns. So word die stadsnaam onder meer verbind met prosecco-vonkelwyn (Veneto se Prosecco-heuwels, waaraan Unesco in 2019 die status van wêrelderfenis toegeken het, is noord van Treviso geleë), die befaamde Italiaanse koffiekoek-nagereg Tiramisù (wat in 1962 vir die eerste keer in die plaaslike restaurant Alle Beccherie voorgesit is[18]), en die radicchio rosso of rooi Italiaanse sigoreiwortel (in Italië dikwels ook radicchio trevigiano of radicchio di Treviso genoem[19]). Met sy sagte note van bitterheid word dit as slaai voorgesit, gebraai of gesoteer. Elke jaar in Desember word in Treviso 'n gastronomiese fees gevier waarin die radicchio sentraal staan.
Die Italiaanse regisseur Pietro Germi (1914−1974) se erotiese komedie Signore & Signori, wat in 1966 ontstaan het en op die Cannes-rolprentfees van dieselfde jaar met 'n Palme d'Or bekroon is, speel in Treviso af. Die draaiboek is geskryf deur Luciano Vicenzoni, 'n boorling van Treviso.[20] In die Verenigde State is die rolprent vrygestel onder die titel The Birds, the Bees and the Italians.
Sedert 2003 word 'n strokiesprentfees, die Treviso Comic Book Festival (TCBF), jaarliks in Treviso gehou.[21] Naas uitstallings word ook konserte, byeenkomste met outeurs en tekenaars en werkswinkels aangebied. Die volgende fees sal tussen 25 en 27 September 2020 gehou word.
In 1962 het die kunsversamelaar Ferdinando «Nando» Salce (1878–1962), 'n boorling van Treviso wat ook hier oorlede is, sy versameling van grafiese kuns aan die Italiaanse staat bemaak. Aan sy argief met sowat 25 000 Italiaanse en buitelandse advertensieplakkate uit die tydperk tussen 1844 en 1962, waaronder werke van Italiaanse kunstenaars soos Leonetto Cappiello en Bruno Munari, is die status van «nasionale museum» toegeken. Die versamelings word in die San Gaetano-kompleks in die historiese middestad gehuisves en hier op vier verdiepings vertoon. 'n Boekwinkel maak deel uit van die museum wat vlakby die San Gaetano-kerk geleë is.
Treviso se stedelike museum word in die 14de eeuse Santa Caterina-kloosterkompleks gehuisves. Sy uitstallings behandel die geskiedenis van die stad, van die Paleolitiese tydperk tot die Romeinse periode. Kunsliefhebbers mag hier 'n fresko-siklus besigtig wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog uit die Santa Margherita-kerk gered kon word. Die siklus, wat die moeilike Lewe van Sint Orsola uitbeeld, is in 1358 deur Tommaso di Modena geskilder as een van die belangrikstes van sy soort uit hierdie periode.
Die Luigi Bailo-museum. genoem na die priester Luigi Bailo (1835–1932), is Treviso se museum vir moderne kuns. 20ste eeuse kunswerke, wat hier vertoon word, sluit portrette deur Luigi Serena, Lino Selvatico en Bepi Fabiano in, net soos beeldhoukuns deur Ottone Zorlini en die omvattendste versameling van werke deur die beeldhouer, skilder, grafikus en dosent Arturo Martini (1889–1947), 'n boorling van Treviso.
As 'n huldeblyk aan Treviso se verlede as universiteitstad het tersiêre instellings uit Padua en Venesië besluit om enkele studieprogramme hier aan te bied. So kan studente vir 'n meestersgraad in Economia e Gestione del Turismo (Ekonomie en Bestuur van Toerisme) op die Università Ca´ Foscari Venezia se Treviso-kampus langs die Riviera Santa Margherita inskryf. Die Venesiaanse universiteit se Palazzo San Paolo op hierdie kampus huisves ook die Centro Internazionale di Studi sull´Economia Turistica (CISET) wat in 1991 deur die Universiteit Ca' Foscari, die Administratiewe Streek Veneto en die Italiaanse Touring Club gemeenskaplik gestig is.[22]
Treviso beskik oor 'n eersterangse infrastruktuur vir fietssport-entoesiaste en toeriste wat die stad en sy omgewing per fiets wil verken, met dubbellaan-fietsbane. Een van die gewildste fietspaaie, wat onder meer langs die Silerivier loop, verbind Treviso se historiese middestad met die strandoord Jesolo aan die Adriatiese See. Treviso is langs die roete van die fietswedren Giro d'Italia geleë.
Benetton is een van twee Italiaanse rugbyspanne wat in die jaarlikse Verenigde Rugbykampioenskap speel en vir tuiswedstryde die Stadio Comunale di Monigo gebruik.