Type a search term to find related articles by LIMS subject matter experts gathered from the most trusted and dynamic collaboration tools in the laboratory informatics industry.
Spica
| ||||
Spica se ligging (in die rooi sirkel). | ||||
Sterrebeeld | Maagd | |||
Bayer-naam | Alpha Virginis | |||
Spektraaltipe | B1 V[1] (B1 III-IV + B2 V)[2] | |||
Soort | Dubbelster | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 13h 25m 11.579s[3] | |||
Deklinasie | -11° 09′ 40.75″[3] | |||
Skynmagnitude (m) | 0,97[4] (0,97-1,04[5]) | |||
Absolute magnitude (M) | -3,55 (-3,5/-1,5)[6] | |||
B-V-kleurindeks | -0,23[4] | |||
U-B-kleurindeks | -0,94[4] | |||
Besonderhede | ||||
Komponent 1 | Primêre ster | |||
Massa (M☉) | 11,43±1,15 | |||
Radius (R☉) | 7,47±0,54 | |||
Ligsterkte (L☉) | 20 512+5 015−4 030 | |||
Temperatuur (K) | 25 300±500 | |||
Rotasiespoed (km/s) | 165,3±4,5 | |||
Komponent 2 | Sekondêre ster | |||
Massa (M☉) | 7,21±0,75 | |||
Radius (R☉) | 3,74±0,53 | |||
Ligsterkte (L☉) | 2 254+1 166−768 | |||
Temperatuur (K) | 20 900±800 | |||
Rotasiespoed (km/s) | 58,8±1,5 | |||
Eienskappe | ||||
Afstand (ligjaar) | 250 ± 10 | |||
Ouderdom (jaar) | 12,5 miljoen | |||
Veranderlikheid | β Cep + Ovaal[5] | |||
Ander name | ||||
Azimech, Alaraph, Alpha Virginis, 67 Virginis, HR 5056, BD-10°3672, HD 116658, GCTP 18144, FK5 498, CCDM 13252-1109, SAO 157923, HIP 65474[7] | ||||
|
Spica (ook bekend as Alpha Virginis of α Vir) is die helderste ster in die sterrebeeld Maagd en een van die 20 helderste sterre in die naglug. Volgens parallaksmetings is dit sowat 250 ± 10 ligjare van die Son af.[3] Dit is ’n spektroskopiese dubbelster en ’n roterende ovaalvormige veranderlike: ’n stelsel waarvan die twee sterre so na aan mekaar is dat hulle ovaalvormig eerder as rond is en wat net deur hulle spektrums van mekaar onderskei kan word. Die primêre ster is ’n bloureus en Beta Cephei-veranderlike.
Spica, Arcturus en Denebola (of Regulus, na gelang van die bron) is deel van die asterisme Lentedriehoek.
Spica is een van die naaste groot dubbelsterre aan die Son en dus die onderwerp van baie waarnemingstudies.[8] Dit is vermoedelik die ster waarvan Hipparcos die data gekry het wat hom aksiale presessie laat ontdek het.[9]
Die ster lê 2,06 grade van die sonnebaan af en kan dus deur die Maan verduister word, en soms deur planete. Die laaste verduistering deur ’n planeet was toe Venus op 10 November 1783 voor Spica verbybeweeg het soos van die Aarde af gesien. Die volgende verduistering deur Venus sal op 2 September 2197 wees.[10]
Spica is ’n nabydubbelster waarvan die twee komponente elke vier dae om mekaar wentel. Hulle is so na aan mekaar dat hulle nie deur ’n teleskoop van mekaar onderskei kan word nie. Die veranderings in hul wentelbeweging lei tot ’n Dopplerverskuiwing in die absorpsielyne van hul onderskeie spektrums, wat hulle ’n dubbellyn- spektroskopiese dubbelster maak.[11]
Spica is ’n roterende ovaalvormige veranderlike, waar albei sterre deur hulle swaartekragwisselwerking verwring word. Dit veroorsaak dat die skynbare magnitude van die stelsel met 0,03 wissel oor ’n tydperk wat met die wentelperiode ooreenstem. Hierdie effense afname in helderheid is skaars visueel sigbaar.[12] Albei sterre roteer vinniger as hul gemeenskaplike wentelperiode. Die gebrek aan sinchronisasie en die groot elliptisiteit van hul wentelbaan dui daarop dat dit ’n jong sterstelsel is. Hulle wedersydse getywisselwerking kan mettertyd lei tot rotasiesinchronisasie en ’n kleiner baaneksentrisiteit.[13]
Spica se sterreklassifikasie word algemeen beskou as dié van ’n vroeë B-tipe hoofreeksster.[1] Dit is moeilik om aparte spektraaltipes vir die twee komponente vas te stel; die Bright Star Catalogue gee ’n spektraalklas van B1 III-IV vir die primêre ster en B2 V vir die sekondêre ster aan,[2] maar latere studies het verskeie ander waardes aangegee.[14][15]
Die ligsterkteklas van "III-IV" vir die primêre ster stem ooreen met die spektrum van ’n ster wat halfpad tussen ’n subreus en reusester is, en dit is dus nie meer ’n hoofreeksster nie. Dit is ’n swaar ster met ’n massa van meer as 10 keer dié van die Son en ’n radius van sewe keer die Son s'n. Sy bolometriese ligsterkte is sowat 20 500 keer die Son s’n en nege keer dié van sy metgesel.[16] Dit is een van die naaste sterre aan die Son wat as ’n tipe II-supernova kan ontplof.[17][18]
Die primêre ster is ’n Beta Cephei-veranderlike waarvan die helderheid oor 0,1738 dae wissel. Die spektrum toon ’n wisseling in radiale snelheid oor dieselfde tydperk, wat aandui dat die oppervlak van die ster gereeld uitwaarts pulseer en dan weer saamtrek. Die ster roteer baie vinnig, met ’n rotasiespoed van 199 km/s by sy ewenaar.[11]
Die stelsel se sekondêre ster is een van die min sterre waarvan die spektrum deur die Struve-Sahade-effek geraak word. Dit is ’n onreëlmatige verandering in die sterkte van die spektraallyne deur die loop van sy wentelbaan, waar die lyne swakker word terwyl die ster wag van die waarnemer beweeg.[8] Dit kan die gevolg wees van ’n sterk sterwind van die primêre ster af wat die lig van die sekondêre ster verstrooi wanneer dit wegbeweeg.[19] Hierdie ster is kleiner as die primêre ster, met ’n massa van sowat sewe keer dié van die Son en ’n radius van 3,6 keer die Son s'n.[11] Sy sterreklassifikasie is B2 V, wat beteken dit is ’n hoofreeksster.[20]
Die ster se Bayer-naam is "Alpha Virginis". Die tradisionele naam "Spica" kom van die Latynse spīca virginis, "die maagd se graanaar". Johann Bayer het die naam "Arista" genoem.
Nog ’n tradisionele naam is "Azimech", van die Arabiese السماك الأعزل al-simāk al-ʼaʽzal, "die ongewapende 'simāk'" (betekenis onbekend).
In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN)[21] die naam "Spica" vir die ster goedgekeur.[22][23]