Knowledge Base Wiki

Search for LIMS content across all our Wiki Knowledge Bases.

Type a search term to find related articles by LIMS subject matter experts gathered from the most trusted and dynamic collaboration tools in the laboratory informatics industry.

Teks in onderskrif

Slawiërs

Totale bevolking: 350 miljoen
Belangrike bevolkings  in: Vlag van Rusland Rusland 134 miljoen

Vlag van Pole Pole 60 miljoen
Vlag van Oekraïne Oekraïne 59 miljoen
Flag of the Czech Republic Tsjeggië 14 miljoen
Vlag van Serwië Serwië 10 miljoen
Vlag van Belarus Belarus 10 miljoen
Vlag van Bulgarye Bulgarye 9 miljoen
Vlag van Kroasië Kroasië 8 miljoen
Vlag van Slowakye Slowakye 7 miljoen
Bosnië-Herzegowina 3 miljoen
Vlag van Slowenië Slowenië 2,5 miljoen
Flag of the Republic of Macedonia Noord-Masedonië 2,4 miljoen
Vlag van Montenegro Montenegro 460 000

Taal: Slawiese tale
Geloofsoortuiging: Meerderheid:
Oosters-Ortodokse Kerk
Rooms-Katolieke Kerk
Islam

Minderheid:
Protestantisme
Neopaganisme
Spirituele Christendom
Ongebonde
Verwante etniese groepe: Balte

Slawiërs of Slawe verwys na ’n groep volke wat ’n Slawiese taal praat en veral in Sentraal- en Oos-Europa woon. Die Slawiese tale vorm naas die Germaanse, Romaanse, Keltiese en Baltiese tale een van die hoofgroepe binne die Indo-Europese taalfamilie in Europa.

Lande met ’n oorwegend Slawiese bevolking is die Russiese Federasie, Oekraïne, Pole, Tsjeggië, Belarus, Slowakye, Slowenië, Kroasië, Serwië, Montenegro, Bulgarye, Noord-Masedonië en Bosnië-Herzegowina. Groot Slawiese minderhede word in Kasakstan, Moldowa en die drie Baltiese lande Litaue, Estland en Letland aangetref.

Die Slawiese taalgebied het in die Middeleeue in die weste tot in die huidige Duitsland gestrek; beduidende Slawiese minderhede in die Duitse taalgebied is die Sorbe, ’n klein Wes-Slawiese volk in die gewes Lausitz (deelstate Brandenburg en Sakse), asook Kroatiese, Slowaakse en Sloweense minderhede in Oostenryk.

Navorsers neem aan die Slawiërs het in die eeue v.C. nog oor ’n gemeenskaplike taal, Protoslawies, beskik. Hierdie taal, waarvan geen geskrifte oorgebly het nie, was nou verwant aan die 10de-eeuse Oudslawies en Ou Kerkslawies. Die huidige Slawiese tale word volgens geografiese en fonetiese beginsels in drie groepe verdeel: Oos-Slawies, Wes-Slawies en Suid-Slawies.

Etimologie van die term Slawiërs

Lande met ’n oorwegend Slawiessprekende bevolking:

   Wes-Slawiese volke

   Oos-Slawiese volke

   Suid-Slawiese volke

Afgesien van Ptolemeus se onduidelike verwysing na stamme soos die Slavanoi en Soubenoi, dateer die oudste skriftelike bronne oor die Slawiërs uit die 6de eeu n.C. Die woord verskyn in Bisantynse Grieks met spellings soos Sklabenoi, Sklauenoi of Sklabinoi, terwyl hulle in Latynse dokumente Sclaueni, Sclauini of Sthlaueni genoem word. Die oudste bronne, wat in die 9de eeu in Oud-Kerkslawies geskryf is, verwys na die Slawiese bevolking in die omgewing van Thessaloniki as slověne. Ander historiese bronne sluit Oud-Russiese tekste in wat na die slověně as ’n Oos-Slawiese bevolking naby Weliki Nowgorod verwys. Daarnaas kom dieselfde woordstam ook in riviername soos Slovutich (tans Dnjepr, Rusland) en Slavonica (in Kroasië) voor.

Die woordstam word gewoonlik verbind met Slawiese terme soos sláva ("glorie", "roem", "faam") of slovo ("woord", "praat") wat albei verwant is aan slušati en van die Indo-Europese wortel *ḱlew- afgelei is. Dus sou slověne vertaal kan word as "mense wat (dieselfde taal) praat" of "mense wat mekaar verstaan" – in teenstelling met die Slawiese woord vir vreemde volke, Němtsi wat "mompelende mense" beteken en van die Slawiese němъ – "mompel, doof" afgelei is.[1] Dieselfde term word in die meeste Slawiese tale gebruik om na die Wes-Germaanse bure te verwys – soos die Poolse Niemcy wat "Duitsers" of "Duitsland" beteken.

Navorsers het nogtans ook meer gevorderde alternatiewe teorieë oor die oorsprong van die naam ontwikkel. Bohdan Philip Łozinski voer aan dat die term sláva oorspronklik "aanbidder" beteken het en in hierdie samehang na die "aanhanger van ’n gemeenskaplike Slawiese godsdiens" verwys, en eers later tot ’n etoniem ontwikkel het.[2]

S.B. Bernstein stel voor die term is van ’n gerekonstrueerde Proto-Indo-Europese woord, *(s)lawos, afgelei wat verwant is aan die Griekse laós ("bevolking, volk"). Vir die laasgenoemde Griekse term is daar nog geen algemeen aanvaarde etimologie ontwikkel nie.[3] Max Vasmer en ander taalkundiges stel voor die term is oorspronklik van ’n riviernaam afgelei (vergelyk die etimologie van Volcae met verwante Latynse woorde soos cluere ("skoonmaak, reinig") – ’n wortel wat nie in Slawies behou is nie, alhoewel dit in ander tale steeds met soortgelyke betekenisse voorkom, byvoorbeeld in Grieks (klyzein – "was"), Oud-Engels (hlūtor – "skoon", "rein"), Oud-Noors (hlér – "see"), Wallies (clir – "skoon", "rein") en Litaus (šlúoti – "wegvee", "uitvee").

Vroegste historiese verwysings

Die uitbreiding van Slawiese groepe tussen die 5de en 10de eeu

Die Slawiese wêreld – wat ’n derde van die huidige Europese bevolking verteenwoordig – het eeue lank geen belangstelling gewek nie. Antieke geskied- en aardrykskundiges het die destyds bekende wêreld in hul werke behandel en ’n verskeidenheid Germaanse en Keltiese stamme noukeurig beskryf. Maar tot in die tyd van die groot volksverhuisings is daar geen verslae oor die bestaan van Slawiese volke nie.[4]

Navorsers noem ’n aantal redes hiervoor. Die Slawiese etnogenese het byvoorbeeld later as in die geval van dié van die Kelte en Germane plaasgevind. Dié proses het dan ook nog in ’n gebied afgespeel wat ver buite die antieke wêreld se belangesfeer geleë was – afgeleë streke van Oos-Europa wat selfs deur destydse avontuurlustige handelslui min besoek is. Kennis oor dié geweste was beperk tot die suidelike dele van die huidige (Europese) Rusland wat na volke soos Skitiërs of Sarmate genoem is.

Al het Griekse koloniste hulle reeds in die 7de en 6de eeu v.C. aan die noordkus van die Swartsee gevestig en moontlik ook die riviere van dié streek as waterweë na binnelandse handelsgebiede bevaar, is daar met uitsondering van een fragment van Hekataios van Milet, wat ouer berigte oor die inheemse volke bevat, geen skriftelike oorlewerings in hierdie verband nie.

Herodotos, die vroegste bekende Griekse geskiedskrywer, het in die 5de eeu v.C. na Skitië gereis, en hoewel hy buiten die stad Olbia en die Dnjestr-monding geen ander plekke in die gebied besoek het nie, het hy in gesprekke met inheemse bewoners meer oor die bevolking van die noordwaarts geleë streke te wete gekom en hierdie kennis in die vierde boek van sy historiese werk Geskiedenisse van Herodotos versamel. Dié werk oor Skitië sou eeue lank die belangrikste antieke bron oor Oos-Europa vorm. Herodotos het al kennis van die steppe in die suidelike deel van dié gebied gehad, maar ook van die talle riviere en uitgestrekte bosgebiede in die noorde.

Herodotos verwys daarnaas na ’n aantal stamme wat streke wes, noord en oos van Skitië bewoon het soos die Agathirsers in die weste (blykbaar ’n stam van Thraciese afkoms wat in die gebied van die huidige Roemenië goud ontgin het); die Neurers (’n redelik onbekende volk verder noord tussen die bo- en middelloop van die Dnjestr-rivier wat spore in die toponimie van die huidige Oos-Pole gelaat het, soos in die riviere Nura, Nurzec en ander, en wat na bewering in ’n bepaalde seisoen in wolwe kon verander – een van die vroegste verwysings na die weerwolfmite van Oos-Europa); die wilde Androphagi of Mensvreters tussen die middelloop van die Dnjepr en Don; die nomadiese Melanchlaine-volk wat so genoem is na aanleiding van hul swart gewade en in dieselfde gebied as die Androphagi gewoon het; en die redelik onbekende Budine, ’n volk met blonde hare en blou oë wat as jagters bekend gestaan het en in huide geklee was – moontlik ’n Finse stam. Dit is nie bekend of een van hierdie stamme moontlik ’n etniese verbintenis met die Slawiërs gehad het nie.

Etnogenese en taalkundige onderverdeling

Slawiese volke in die 7de tot 9de eeu
Oos-Slawiese volke in die 8ste en 9de eeu

Die wetenskaplike debat oor die oorsprongsgebied van die Slawiërs word steeds gevoer. Die Slawiese etnogenese het moontlik in die uitgestrekte Pripjat-moerasgebiede (tans Wit-Rusland en Oekraïne) begin. Slawiese groepe het later ook na Pole uitgebrei.

’n Belangriker aspek van die Slawiese etnogenese is die kulturele kontak met verskillende buurvolke, waaronder Germane (veral Gote), Hunne, Alane en Turkse volke wat kenmerkend van die vroeë Slawiese geskiedenis is en tot wedersydse voordeel gestrek het). Tydens hul uitbreiding tussen die 9de en 11de eeu het die afsonderlike historiese ontwikkeling en invloede van buurvolke tot die ontstaan van drie Slawiese hoofgroepe gelei:

Die eerste historiese verwysings na Slawiese volke kom in die werke van Plinius die ouere, Tacitus en Ptolemeus voor; hierdie Romeinse en Griekse skrywers het na Slawiese stamme as Veneti of Venedi verwys (vergelyk die latere Duitse benaming Wenden). Bisantynse geskiedskrywers soos Jordanes en Prokopios het vanaf die 6de eeu die term Sklavenoi gebruik om na Slawiese stamgroepe langs die benedeloop van die Donau-rivier en die oostelike Alpegebied te verwys.

In die tydperk van die groot volksverhuising het Slawiese groepe as gevolg van Germaanse migrasies in ’n westelike en suidelike rigting uitgebrei, dikwels ook na yl bevolkte Germaanse gebiede waar bewoners deur die Slawiërs in taalkundige en kulturele opsig opgeneem is. Omstreeks 600 het Slawiese groepe (Abodriete, Veneters, Sorbe en Pomorane) na Oos-Elbiese gebiede, wat deur Germane ontruim is, uitgebrei. Die eerste historiese verwysings na hierdie groepe dateer nogtans eers uit die Karolingiese tydperk – in 805 het Karel die Grote die sogenaamde Limes sorbicus as oostelike grenslyn tussen die Frankiese en Slawiese gebiede vasgelê. Die Duitse kolonisasie van die Donau-vallei, in die Oos-Alpegebied en in die streek oos van die Elbe-rivier, wat in die 9de eeu ná die vernietiging van die Awareryk begin het en die immigrasie van Hongaarse stamme na die huidige Hongaarse Vlakte het ’n einde aan die geografiese en kulturele eenheid van die Slawiese wêreld gemaak – die Wes-Slawiërs in die noorde is van die Suid-Slawiese groepe afgesny.

Die Duitse uitbreiding na Oos-Elbië het tot die kulturele en taalkundige assimilasie van Slawiese volke in hierdie gebied gelei, en slegs kleiner groepe soos die Wende het hul Slawiese moedertaal bewaar.

Kultuur en ekonomie

’n Slawiese handelskip in ’n Duitse museum

Die vroeë Slawiese bevolking het uit familiegroepe bestaan wat gemeenskaplike nedersettings gestig het. Hierdie nedersettings is deur die oudstes bestuur. Geleidelik het hierdie groepe tot stamgroepe ontwikkel wat oor ’n gemeenskaplike militêre organisasie beskik en in godsdienstige opsig deur voorouerverering gekenmerk is. Leiers van stamgroepe het ’n maatskaplike bolaag gevorm waaruit ’n Slawiese adel ontwikkel het. Die opsplitsing in ’n groot aantal stamgroepe het die vorming van groter politieke eenhede of ’n gemeenskaplike ryk verhoed – heersertitels, wat in latere tydperke gebruik is, is uit vreemde tale ontleen – vergelyk kunedzi (vors, van Germaanse oorsprong, verwant aan "koning"), korlji (Tsjeggies kral, gevorm uit Karel die Grote se voornaam) en tsaar, afgelei van die Romeinse titel Caesar.

In hul uitgebreide tuisland het die Slawiërs ’n bestaan gemaak uit omvattende akkerbou, veeboerdery, jag, vissery en byeboerdery. Nogtans was daar in groter nedersettings ook gespesialiseerde ambagsmanne soos wewers, timmermanne, pottebakkers, leerlooiers en pelsmakers. Met groot riviere as waterweë is reeds vroeg handelsbande met ander gebiede gesmee. Onverwerkte handelsgoedere soos heuning, byewas en huide is verruil vir tekstiele, wapens, gereedskap, juweliersware, goud en silwer. Aanvanklik was die handel in en met Slawiese gebiede in die hande van Joodse, Germaanse en Griekse koopmanne, tog het die Slawiërs hierdie monopolie geleidelik verbreek. Die vroeë Slawiese handelsentrums het tot stedelike nedersettings gegroei.

In kulturele opsig – veral wat huise en nedersettings betref – toon die Oos-Slawiërs sterk Skandinawiese invloede wat uit die tydperk van die Warangiër- of Wiking-ryke (9de eeu) dateer. Betrekkinge met die Bisantynse Ryk het die Oos-Slawiese volke aan godsdienstige invloede uit die Oostelike kerke van die Christendom blootgestel, terwyl kulturele bande met Wes-Europa eers sedert die heerskappy van tsaar Pieter die Grote (omstreeks 1700) aangeknoop is. Met die kolonisasie van Siberië het die Oos-Slawiese Russe ook na die Verre-Ooste begin uitbrei.

Aangesien die kerstening van die Wes-Slawiese volke uit Rome georganiseer is, het hierdie groepe aan die kulturele ontwikkeling van Wes-Europa deelgeneem. Kleiner groepe het met die Duitse volk versmelt.

Die Suid-Slawiërs het vanaf die 6de eeu vermoedelik uit die Karpate-gebied na hul huidige gebied in Suid- en Suidoos-Europa geïmmigreer. Vanweë hul geografiese ligging tussen Rome en die Bisantynse Ryk, die magsuitbreiding van die Turke en Duitse en Italiaanse invloede is hierdie deel van die Slawiese wêreld in nasionale, kulturele en kerklike opsig in verskillende groepe verdeel.

Die Slawiese volkskultuur toon steeds groot ooreenkomste tussen die verskillende Slawiese groepe.

Godsdiens

’n Gerekonstrueerde Slawiese tempel in Torgelow, Duitsland

Vroeë bronne bevat besonderhede oor name en beelde van godhede, Wes-Slawiese tempels (soos dié van Kaap Arkona op die Duitse Oossee-eiland Rügen, heiligdomme in Szczecin (Stettyn) wat aan die godheid Triglaf gewy is asook ’n heiligdom van die god Svarocic in Rethra), van boomkulte en orakels. Sekere tradisies soos die gebruik van amulette dui op kontak met Iraniërs en Turkse volke.

Bekende godhede sluit die god van weerlig en donder, Peroen, in wat veral in Oos-Slawiese oorlewerings beskryf word en ooreenkomste met die Baltiese god Perkūnas toon. Swarog was die hemelsgod en god van donder wat deur alle Slawiërs vereer is, terwyl Slawiese groepe in die Havelgebied (tans Duitsland) die songod Dazbag en die lentegod Jarowit aanbid het. Vrugbaarheidsgode soos Rod en Rozanicy is oorwegend in familieverband vereer. Net soos in die Baltiese godsdienste het natuurverering by alle Slawiese stamme ’n sentrale rol gespeel.

Die Slawiese godsdiens het die hoop op ’n lewe ná die dood behels, die menslike siel (dusza) is as onsterflik beskou en het na die afsterwe van ’n mens na ’n paradys (nav, ráj) toe gegaan wat as ’n groot weiveld uitgebeeld is. Lykverbrandings het net soos teraardebestellings orals in die Slawiese wêreld voorgekom.

Kerstening

Wes-Slawiese stamme in die 9de en 10de eeu

Die kerstening van Slawiese volke het met die uitbreiding van die Romeinse en Bisantynse kultuur in Oos- en Sentraal-Europa begin. In die 6de eeu het Christelike sendelinge die Kroate uit Aquileia in Noord-Italië tot die Christendom bekeer, terwyl Salzburg in die 8ste eeu die sentrum vir sendelinge in Sloweense stamgebiede was. Tydens die heerskappy van Karel die Grote is die kerstening van die Wende, Tsjegge (vanuit Regensburg), Abodriete en Elbiese Slawiërs (vanuit Verden an der Aller) georganiseer. Die Serwiërs het omstreeks 850 by die oostelike kerke aangesluit. Die Slawiese monnikebroers Cyrillus en Methodius het as sendelinge in die Groot-Morawiese Ryk gewerk en later by Rome aangesluit.

Die meeste Slawiese gebiede het probeer om selfstandige kerke (outokefale aartsbisdomme of patriargate) te stig; die eerste van hierdie groep oostelike kerke het met die kerstening van Bulgarye in 864/865 ontstaan. Die Makedoniese dialek is tot die basis van ’n gemeenskaplike Slawiese kerktaal uitgebou en is deur die Oos-Slawiërs en Slawiese volke op die Balkanskiereiland as skryftaal aanvaar.

Met die Christelike godsdiens het die Slawiese wêreld by die Middeleeuse Europese beskawing aangesluit en ’n nuwe kulturele bloeitydperk beleef. Die gemeenskaplike geloof het daarnaas ook die vorming van heterogene volke en state bevorder, alhoewel die Slawiese volke in Rooms-Katolieke (Wes-Slawiërs) en Grieks-Ortodokse (Oos-Slawiërs) verdeel was. Die Ortodokse Slawiërs het in teenstelling met die Wes-Slawiërs die Griekse alfabet saam met die Latynse alfabet aangeneem en by hul behoeftes aangepas.

Verwysings

  1. Votruba, Martin: Slovak, Slavic, Slavonic..., aanlyn beskikbaar: Slovak Studies Program, University of Pittsburgh Geargiveer 2 Junie 2010 op Wayback Machine
  2. Łozinski, Bohdan Philip: The Name SLAV. Essays in Russian History. Archon Books 1964
  3. Bernstein S. B.: Очерк сравнительной грамматики славянских языков, vol. 1–2, Moskou 1961
  4. Váňa, Zdeněk: Die Welt der alten Slawen. Praag: Artia 1983, bl. 9

Eksterne skakels