Type a search term to find related articles by LIMS subject matter experts gathered from the most trusted and dynamic collaboration tools in the laboratory informatics industry.
Interkalasie of embolisme in tydmeting is die tussenvoeging van ’n skrikkeldag, -week of -maand in sommige kalenderjare sodat die kalender die seisoene of maanfases kan volg. Maansonkalenders kan die interkalasie van beide dae en maande verg.
Die son- of tropiese jaar het nie ’n heelgetal dae nie (dit is sowat 365,24 dae lank), maar ’n kalenderjaar moet ’n heelgetal dae hê. Die mees algemene manier om die probleem op te los is om die getal dae in ’n kalenderjaar te wissel.
In sonkalenders word dit gedoen deur elke vier jaar ’n ekstra dag, of skrikkeldag, te voeg by ’n gewone jaar van 365 dae, wat ’n embolistiese of skrikkeljaar tot gevolg het met 366 dae (soos in die Juliaanse en Gregoriaanse kalender). In eersgenoemde kalender, sowel as in die laasgenoemde een, wat daarop verbeter het, is ’n ekstra dag in Februarie van elke skrikkeljaar gevoeg. In die Juliaanse kalender is dit elke vier jaar gedoen. In die Gregoriaanse kalender word jare wat deur 100 deelbaar is maar nie deur 400 nie, uitgesluit om akkuraatheid te verbeter. Dus was 2000 ’n skrikkeljaar, maar nie 1700, 1800 en 1900 nie.
Epagomeniese[1] dae is dae in ’n sonkalender wat buite enige reëlmatige maand bygevoeg word. Gewoonlik word elke jaar vyf epagomeniese dae bygevoeg in byvoorbeeld die Egiptiese, Koptiese en Ethiopiese kalender, maar soms word ’n sesde dag elke vier jaar bygevoeg.
Die Baha'i-kalender voeg genoeg epagomeniese dae (gewoonlik vier of vyf) by voor die laaste maand om te verseker die volgende jaar begin op die Maart-nagewening. Hulle word die Ayyám-i-Há genoem.
Die sonjaar het nie ’n heelgetal maanmaande nie (dit bevat sowat 12,37 maansomlope); dus moet ’n maansonkalender ’n wisselende getal maande in ’n jaar hê. Gewone jare het 12 maande, maar in embolistiese jare elke twee of drie jaar word ’n 13de skrikkelmaand bygevoeg. Of ’n skrikkelmaand in ’n sekere jaar bygevoeg moet word of nie, kan bepaal word deur die gebruik van gereelde siklusse soos die 19-jaar-maansiklus (in die Hebreeuse kalender en in die bepaling van die Paastyd) of deur die berekening van maanfases (Hindoe- en Chinese kalender). Die Boeddhiste-kalender voeg beide ’n skrikkeldag en -maand by ’n gewoonlik gereelde siklus.
Die tabellariese Islamitiese kalender het gewoonlik 12 maanmaande met óf 30 óf 29 dae elk, maar ’n skrikkeldag word in ’n siklus van 30 jaar 11 keer by die laaste maand van die jaar gevoeg.
Die Persiese kalender is geskoei op die sonjaar en stem ooreen met die Gregoriaanse kalender, vandaar die interkalasie, behalwe dat die jaar met die hidjra begin.[2]
’n Skrikkelsekonde is ’n positiewe of negatiewe aanpassing van ’n sekonde wat gewoonlik in Junie of Desember tot die Gekoördineerde Universele Tyd (UTC)-tydskaal gemaak word om dit naby gemiddelde sontyd te hou. Dit word ook soms as interkalêr beskryf.[3]
ISO 8601 sluit ’n spesifikasie in vir ’n jaar van 52 weke. Enige jaar met 53 Donderdae het 53 weke; hierdie ekstra week kan as interkalêr beskou word.