Type a search term to find related articles by LIMS subject matter experts gathered from the most trusted and dynamic collaboration tools in the laboratory informatics industry.
Die Noordpoolgebied, of Arktika, is 'n poolgebied in die noordelikste deel van die Aarde wat bestaan uit die Arktiese Oseaan (of Noordelike Yssee) en dele van Denemarke (Groenland), Kanada, Rusland, Noorweë, die Verenigde State (Alaska), Swede, Finland en Ysland.
Die naam "Arktika" is afgelei van die Griekse word árktos ἄρκτος vir beer. Die byvoeglike naamwoord árktikós "arkties"‚ "noordelik" het verwys ná die gebied onder die sterrebeeld Groot Beer. Die Poolster is byna loodreg oor die Noordpool en lê in die sterrebeeld Klein Beer.
Die naam "Arktika" kom van die Griekse woord ἀρκτικός (árktikós: "naby die Beer, die noorde"),[1] en dit kom weer van die woord ἄρκτος (árktos "beer").[2] Die naam verwys óf na die Groot Beer, ’n sterrebeeld wat prominent in die noordelike deel van die hemelsfeer is, óf na die Klein Beer, wat die noordelike poolster, Polaris, bevat.[3]
Daar is ’n paar definisies vir die gebied wat as die Noordpoolgebied bekend staan. Diit kan gedefinieer word as noord van die Arktiese Sirkel (66° 33'N), min of meer die grens van die middernagson en poolnag. Volgens nog ’n definisie is dit die streek waar die gemiddelde temperatuur vir die warmste maand (Julie) onder 10 °C is; die noordelikste boomlyn volg die temperatuurlyn (isoterm) rofweg by die grens van dié gebied.[4][5]
Die Noordpoolgebied se klimaat word gekenmerk deur koue winters en koel somers. Sy neerslag is in die vorm van sneeu en is min; die grootste deel kry minder as 50 cm per jaar. Winde skep dikwels sneeu en dit wek die indruk van ’n voortdurende sneeuval. Gemiddelde wintertemperature kan net -40 °C wees en die koudste opgetekende temperatuur is sowat -68 °C. Die klimaat aan die kus is matiger danksy oseaniese invloede. Die gebied word geraak deur aardverhitting en dit lei tot ’n krimping van die Noordelike Yssee, minder ys in die Groenland-yslaag en die vrystelling van metaan wanneer die ysgrond ontdooi.
Weens die noordwaartse verskuiwing van die planeet se isoterms (sowat 56 km per dekade in die laaste 30 jaar as gevolg van aardverhitting), word die Noordpoolgebied (soos bepaal deur boomlyne en temperatuur) tans kleiner.[6] Die grootste rede tot kommer is waarskynlik die krimping van die Noordelike Yssee. Daar is ’n groot verskil in voorspellings hieroor, met modelle wat ’n byna algehele tot algehele ysverlies in September tussen 2040 en 2100 toon. Sowat die helfte van die modelle wat ontleed is, dui op ’n byna algehele tot algehele ysverlies in September teen die jaar 2100.[7]
Bekende diere wat hier voorkom, sluit in soogdiere soos die ysbeer (Ursus maritimus), muskusos (Ovibos moschatus), poolvos (Vulpes lagopus), rendier (Rangifer tarandus), seeroofdiere (Pinnipedia), walrus (Odobenus rosmarus) en die witdolfyn (Delphinapterus leucas); asook voëls soos die swerfvalk (Falco peregrinus), Kanadese gans (Branta canadensis), grysstrandkiewiet (Pluvialis squatarola), Arktiese sterretjie (Sterna paradisaea), swartpootbrandervoël (Rissa tridactyla), mikstertmeeu (Xema sabini), langstertroofmeeu (Stercorarius longicaudus), Arktiese roofmeeu (Stercorarius parasiticus), steenloper (Arenaria interpres) en die fluitswaan (Cygnus columbianus).
Plantegroei bestaan uit dwergstruike, gras, kruide, korsmosse en mosse, wat almal redelik laag groei en ’n toendra vorm. Namate ’n mens noordwaarts beweeg, neem die hoeveelheid hitte wat vir plantegroei beskikbaar is aansienlik af. In die noordelikste gebiede is plante by hul metaboliese perke en klein verskille in die totale hoeveelheid somerhitte maak groot verskille in die hoeveelheid energie wat beskikbaar is vir onderhoud, groei en voortplanting.
Bome kan nie in die Noordpoolgebied groei nie; plante word in die warmer dele tot 2 meter hoog. Grasse en mosse kan dik lae vorm. In die kouer streke is ’n groot deel van die grond kaal; nievaatplante soos korsmosse en mosse oorheers die gebied saam met ’n paar verspreide grasse en weiveldkruide (soos die Arktiese papawer).
Geografiese naam | Land | Soort |
---|---|---|
Alaska | Verenigde State | Deelstaat |
Aleoetiese Eilande | Verenigde State | Amerikaanse eilandgroep |
Archangelsk-oblast | Rusland | Federale deelgebied |
Kanadese Arktiese Argipel | Kanada | Kanadese eilandgroep |
Outonome Okroeg Tsjoekotka | Rusland | Federale deelgebied |
Groot Diomedes-eiland | Rusland | Eiland |
Klein Diomedes-eiland | Verenigde State | Eiland |
Finnmark | Noorweë | Provinsie |
Franz Josef-land | Rusland | Eilandgroep |
Groenland | Denemarke | Outonome land |
Grímsey | Ysland | Eiland |
Jan Mayen | Noorweë | Eiland |
Krasnojarsk-krai | Rusland | Federale deelgebied |
Lapland | Finland | Streek |
Lapland | Swede | Provinsie |
Moermansk-oblast | Rusland | Federale deelgebied |
Outonome Okroeg Nenetsië | Rusland | Federale deelgebied |
Nieu-Siberiese Eilande | Rusland | Eilandgroep |
Nordland | Noorweë | Provinsie |
Norrbotten | Swede | Provinsie |
Noordwestelike gebiede | Kanada | Gebied |
Nowaja Zemlja | Rusland | Eilandgroep |
Nunavik | Kanada | Noordelike deel van Quebec |
Nunavut | Kanada | Gebied |
Russiese Arktiese eilande | Rusland | Eilande |
Sápmi | Noorweë, Swede, Finland, Rusland | Streek |
Republiek Sacha (Jakoetië) | Rusland | Federale deelgebied |
Sewernaja Zemlja | Rusland | Eilandgroep |
Siberië | Rusland | Streek |
Svalbard | Noorweë | Eilandgroep |
Troms | Noorweë | Provinsie |
Yukon | Kanada | Streek |
Outonome Okroeg Jamalo-Nenetsië | Rusland | Federale deelgebied |
Wrangeleiland | Rusland | Natuurreservaat |
Gebiede van die Wêreld | |||||||||||||||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
|
| ||||||||||||||||||||||||
Sien ook Kontinente van die wêreld |