Type a search term to find related articles by LIMS subject matter experts gathered from the most trusted and dynamic collaboration tools in the laboratory informatics industry.
Kimberley | |
---|---|
Die stadskern oor die Groot Gat gesien | |
Byname: Diamantstad | |
Koördinate: 28°44′31″S 24°46′19″O / 28.74194°S 24.77194°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Noord-Kaap |
Distrik | Frances Baard |
Munisipaliteit | Sol Plaatje |
Stigting | 5 Julie 1873[1][2] |
Regering | |
• Burgemeester | Kagisho Dante Sonyoni (ANC) |
Oppervlak | |
• Totaal | 164,3 km2 (63,4 vk. myl) |
Hoogte | 1 184 m (3 885 ft) |
Bevolking (2011)[3] | |
• Totaal | 225 160 |
• Digtheid | 1 370/km2 (3 500/vk. myl) |
Demoniem(e) | Kimberliete |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 8,0% |
• Indiërs/Asiërs | 1,2% |
• Bruin mense | 26,8% |
• Swart mense | 63,1% |
• Ander | 0,9% |
Taal (2011) | |
• Afrikaans | 43,2% |
• Tswana | 35,8% |
• Engels | 8,7% |
• Xhosa | 6,0% |
• Ander | 6,3% |
Poskode (strate) | 8301 |
Poskode (posbusse) | 8300 |
Skakelkode | 053 |
Kimberley is die hoofstad en grootste stad van die Suid-Afrikaanse provinsie Noord-Kaap met 'n bevolking van sowat 225 000 in 2011 (insluitende townships). Die plek waar Kimberley sou ontwikkel, het in 1871 wêreldwyd opslae gemaak ná die ontdekking van 'n diamantveld. Die mynboubedrywighede, wat hier vinnig ontwikkel het, gee onder meer aanleiding tot die industrialisering van Suid-Afrika. Kimberley staan derhalwe bekend as Diamantstad. In 1881 is die eerste aandelebeurs in Afrika in die stad gestig.[4] Kimberley maak op 2 September 1882 ook geskiedenis as die eerste stad in Suid-Afrika en die Suidelike Halfrond asook die tweede in die wêreld na Philadelphia, Pennsilvanië, in die Verenigde State met elektriese gloeilampstraatverligting – op 'n tydstip toe Londense strate nog met gaslampe belig is.[5] Kimberley staan ook bekend vir die beleg tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Die Britse sakemanne Cecil Rhodes en Barney Barnato het hul rykdom in Kimberley begin en Rhodes het die De Beers-diamantmaatskappy in die vroeë dae van die mynstad gestig. Kimberley en die aanliggende Beaconsfield is in 1912 verenig onder een dorpsbestuur en het in Desember daardie jaar stadstatus verwerf.
Alhoewel die stad nie langs die belangrike toeristeroete van Suid-Afrika lê nie, is dit saam met Upington die poort na Suid-Afrika se "Wilde Weste" en na Namibië, met Namakwaland, die Augrabieswaterval, die Kgalagadi-vredespark (voorheen die Kalahari-Gemsbokpark), en die Namibwoestyn met die Visrivier-canyon as die belangrikste toeristebestemmings.
Kimberley het veral aan sy begin naamveranderinge ondergaan van grensplaasname oor delwerskampname na die gevestigde name van die dorpe Kimberley en Beaconsfield wat in 1912 saamgesmelt het. Die enigste spore van voorkoloniale nedersettings binne die stadsgrense is verstrooide Laat Steentydperk-artefakte en daar is geen bekende rekord van plekname voor die eerste 19de-eeuse plaasname nie. Dit het buite die gebiede gelê wat in die voorkoloniale tydperk deur die Batswana bevolk is.[6] Gebiede soos die nabygeleë Wildebeest Kuil Rotskunssentrum getuig van 'n Khoe-San-geskiedenis wat tot in die negentiende eeu streek.
In die na-apartheidsera is die Kimberley-stadsraad hernoem in die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit nadat sy gebied uitgebrei is om ook omliggende dorpe en stede in te sluit, waaronder Ritchie. Sol Plaatje, die bekende skrywer en aktivis, het vir 'n groot deel van sy lewe in Kimberley gewoon. Net so het die destydse Diamantveld-distriksmunisipaliteit die Frances Baard-distriksmunisipaliteit geword, met verwysing na die vakbondlid Frances Baard wat in Greenpoint, Kimberley, gebore is.
In 1866 het die vyftienjarige plaasseun Erasmus Stephanus Jacobs 'n klein wit klip gevind by die oewer van die Oranjerivier op sy vader se plaas De Kalk naby Hopetown wat hulle van plaaslike Griekwas gehuur het. Die klip, wat sy moeder aan 'n belangstellende buurman en versamelaar geskenk het, was 'n 21,25 karaat (4,25 g) diamant ter waarde van £500 wat die naam Eureka gekry het.[7] Volgens 'n ander bron het hy die klippie vir sy vader gewys, wat dit toe verkoop het.[8] Die klippie is deur Schalk van Niekerk by Jacobs se vader gekoop, wat dit later herverkoop het.
Drie jaar later is 'n groter 83,50 karaat (16,7 g) diamant, die Ster van Suid-Afrika gevind, ook naby Hopetown.[9][10] Dié diamant is deur Van Niekerk vir £11 200 verkoop en later op die Londense mark herverkoop vir £25 000.[11]
Henry Richard Giddy het vertel hoe Esau Damoense (of Damon), die kok van die prospekteerder Fleetwood Rawstorne se "Rooikappiepartytjie", in 1871 diamante op Colesbergkoppie gevind het, nadat hy as straf soontoe gestuur is om daar te delf.[12] Rawstorne het die nuus geneem na die nabygeleë delwerye van die De Beer-broers wat die plaas Vooruitzicht besit het – sy aankoms daar het die beroemde New Rush ontketen wat, soos die geskiedkundige Brian Roberts dit stel, eintlik 'n stormloop was. Binne 'n maand is 900 eise in die heuwel gesny waar twee tot drieduisend mans freneties gewerk het. Soos die land gesak het, het die heuwel in 'n myn verander – mettertyd die wêreldbekende Kimberley-myn.[13] Delwery het hier onder ellendige omstandighede plaasgevind – die meeste mense het net oor armsalige hulle of tente beskik en is gepla deur hitte, vuiligheid, insekte en geweldpleging.
Die Kaapkolonie, Transvaal, Oranje-Vrystaat en die Griekwaleier Nicolaas Waterboer het almal aanspraak gemaak op die diamantvelde. Veral die Vrystaatse Boere wou die gebied hê, aangesien dit binne die natuurlike grense geleë is wat deur die Oranje- en Vaalriviere gevorm word. Ná die bemiddeling waaroor die Goewerneur van Natal toesig gehou het, het die Keate-toekenning ten gunste van Waterboer gegaan, wat homself onder Britse beskerming geplaas het.[14] Die grondgebied bekend as Griekwaland-Wes is gevolglik op 27 Oktober 1871 geproklameer.
Op 17 November 1871 het koloniale kommissarisse in New Rush aangekom om gesag oor die gebied uitoefen namens die Kaapse goewerneur. Delwersbesware en myneropstande het goewerneur Henry Barkly se besoek aan New Rush in September die volgende jaar tot gevolg gehad, waar hy 'n plan bekend gemaak het om Griekwaland-Wes tot 'n kroonkolonie te laat verklaar.
Die voortdurende magstryd en hebsug het nogtans 'n aantal merkwaardige mense voortgebring, wat in die ekonomiese geskiedenis van Suid-Afrika 'n beduidende rol sou speel: Cecil Rhodes, die seun van 'n Engelse vikaris, het hier die welvarendste en magtigste man op die Afrikavasteland geword. Barney Barnato, 'n voormalige straathandelaar uit 'n Londense krotbuurt wat op 20-jarige leeftyd na Suid-Afrika geëmigreer het, het hier sy loopbaan as mynmagnaat en multimiljoenêr begin.
Richard Southey sou in Januarie 1873 as luitenant-goewerneur van die voorgenome kroonkolonie aankom. Maande het egter verstryk sonder enige tekens van die proklamasie of die nuwe belowe grondwet en voorsiening vir verteenwoordigende regering. Die vertraging was in Londen waar die Staatsekretaris vir die Kolonies, John Wodehouse, 1ste Graaf van Kimberley, daarop aangedring het dat voor die bepaling van verkiesingsafdelings die plekke "ordentlike en verstaanbare name moes kry. Sy lordskap het geweier om op enige manier met so 'n vulgarisme verbind te wees soos New Rush en wat die Nederlandse naam betref, Vooruitzicht … kon hy dit nie spel of uitspreek nie."[15] Die saak is oorgedra aan Southey wat dit aan sy koloniale sekretaris J.B. Currey gegee het. Roberts skryf "toe dit by die hernoeming van New Rush gekom het, het [Currey] homself as 'n waardige diplomaat bewys. Hy het redelik seker gemaak dat lord Kimberley die naam van die hoofverkiesingsafdeling sowel sou kon spel as uitspreek deur, soos hy sê, dit 'na sy lordskap' te noem." New Rush het deur proklamasie op 5 Julie 1873 Kimberley geword.[16] Delwer-sentiment is in 'n Diamond Field-koerantartikel uitgespreek soos volg "ons het in New Rush gaan slaap en het wakker geword in Kimberley, en só het ons droom verdwyn."[17]
Volgens 'n ooreenkoms deur die Britse regering oor vergoeding aan die Oranje-Vrystaat vir sy mededingende grondeise is in 1877 Griekwaland-Wes deur die Kaapkolonie geannekseer.[18] Die Kaapse eerste minister John Molteno het aanvanklik ernstige twyfel gehad oor die anneksasie van die streek met 'n groot skuldlas, maar nadat hy 'n ooreenkoms met die binnelandse regering aangegaan en die versekering ontvang het dat die plaaslike bevolking in die proses geraadpleeg sou word, het hy op 27 Julie 1877 die Griekwaland-Wes-anneksasiewet goedgekeur.[19]
Delwery het veral by die Colesbergkoppie plaasgevind, maar die koppie is geleidelik weggedelf en staan nou bekend as die Groot Gat – die grootste gat in die wêreld wat met pik en graaf gemaak is. Amptelik is die Groot Gat se naam Kimberleymyn. Die gat het 'n omvang van 1 600 meter, 'n diepte van 215 meter, 'n deursnee van 460 meter en 'n oppervlak van twaalf hektaar (29,7 akker). In die tydperk van 1871 tot 1914 het sowat 50 000 myners 2 722 kilogram of 14,5 miljoen karaat diamante gemyn en 25 miljoen ton aarde en gesteente verwyder. In 1914 was die grond van diamante uitgeput, die delwers het na ander plekke getrek en die Groot Gat was voortaan aan die elemente blootgestel. Dit is opgegrawe tot 'n diepte van 240 m, maar daarna met puin gevul waardeur sy diepte tot sowat 215 m verminder is; sedertdien het dit water tot op 'n hoogte van 40 m opgehoop, waardeur 175 m sigbaar is. Onder die oppervlak is die Kimberleymyn onder die Groot Gat tot 'n diepte van 1097 m ontgin. Volgens 'n gewilde plaaslike mite is dit die grootste handgegrawe gat ter wêreld, maar die Jagersfonteinmyn hou waarskynlik daardie rekord.[20] Dit vorm vandag die middelpunt van 'n opelugmuseum met oorspronklike delwersbehuisings uit die tyd van die diamantestormloop wat van ander plekke na die museumsterrein verskuif is.
Die Groot Gat is die hoofkenmerk op 'n voorlegging van Mei 2004 met die naam "Kimberleymyne en geassosieerde vroeë nywerhede" op die Suid-Afrikaanse kandidaatlys as 'n Unesco-wêrelderfenisgebied.[21][22]
Ander myne by Kimberley was Bultfontein, Wesselton, De Beersmyn en Dutoitspan.
Teen 1873 was Kimberley die naasgrootste Suid-Afrikaanse stad na Kaapstad met 'n bevolking van sowat 40 000.[23] In 1885 is 'n spoorwegverbinding met Kaapstad, Port Elizabeth en Oos-Londen voltooi wat die invoer van hout en steenkool vergemaklik het. Sewe jaar later is die Kimberley and World Exhibition (Kimberley- en wêreldtentoonstelling) gehou as die eerste van sy soort buite die Verenigde Koninkryk.[24] Ter geleentheid van die tentoonstelling is ook die eerste nasionale gholfkampioenskap in Suid-Afrika gehou.[25]
Suid-Afrika se eerste mynbouskool, wat in 1896 in Kimberley geopen is, is later na Johannesburg verskuif, waar dit tot die Universiteit van die Witwatersrand uitgebou is. Huise, strate en brûe is opgerig, en teen die eeuwisseling was Kimberley 'n bloeiende stad.
Die talle kleiner mynmaatskappye is saamgesmelt deur Cecil Rhodes en Charles Rudd tot De Beers en The Kimberley onder Barney Barnato. In 1888 het dié twee maatskappye saamgesmelt tot De Beers Consolidated Mines, wat op 'n stadium die monopolie gehad het oor die wêreldwye diamantmark.[26][27]
Kimberley het baie vinnig die grootste stad in die gebied geword, deels te danke aan 'n groot Afrikamigrasie na die gebied vanuit die hele vasteland. Die migrante is met ope arms verwelkom, omdat die De Beers-maatskappy op soek was na goedkoopwerkers om die myne aan die gang te hou. 'n Ander groep wat na die stad getrek het vir geld was prostitute uit 'n wye verskeidenheid etniese groepe wat in kroeë en saloons gevind kon word. Dit is geprys as 'n stad van onbeperkte geleenthede.[28]
Vyf groot gate is in die aarde gegrawe na aanleiding van die kimberlietpype wat na die stad genoem is. Kimberliet is 'n diamantdraende blou grond wat onder 'n geelkleurige grond lê.[29]
Op 14 Oktober 1899 is Kimberley aan die begin van die Tweede Vryheidsoorlog beleër deur die Boeremagte. Die Britse magte wat die beleg probeer verlig het, het groot verliese gely. Die beleg is eers op 15 Februarie 1900 opgehef, maar die oorlog het voortgeduur tot in Mei 1902. Teen daardie tyd het die Britte 'n konsentrasiekamp by Kimberley gebou om Boerevroue en -kinders te arresteer.[30]
Die tot dusver afsonderlik geadministreerde stadsdele van Kimberley en Beaconsfield het in 1912 in die stad Kimberley saamgesmelt.[31]
Alhoewel 'n aansienlike mate aan stedelike segregasie reeds bestaan het, was die implementering van die Groepsgebiedewet een van die grootste invloede van apartheid op Kimberley. Gemeenskappe is volgens wettiglik bepaalde rassekategorieë verdeel, naamlik "Europeërs" (wit), "Inheems" (swart), "Kleurling" (bruin) en "Indiërs" – toe regtens geskei deur die Wet op Verbod van Gemengde Huwelike. Individuele gesinne kon op drie maniere verdeel word (gebaseer op sulke berugte maatreëls soos die "potloodtoets") en gemengde gemeenskappe is óf heeltemal verskuif (soos in die Maleierkamp – alhoewel daardie "suiweringe" as sulks reeds voor die begin van apartheid begin is) óf hulle is selektief "skoongemaak" (soos in Groenpoint wat 'n "Kleurlinggroepsgebied" geword het, sy eertydse Afrika- en ander inwoners is na ander dele van die stad verskuif). Residensiële segregasie is dus afgedwing in 'n proses wat met die skepping van nuwe townships gepaard gegaan het by die noordelike en noordoostelike uithoeke van die groeiende stad. Instellings wat swaar getref is deur die Groepsgebiedewet, Bantoe-onderwys en ander wette wat kerke ingesluit het (soos die Metodistekerk in Beanstraat) en skole (party, soos William Pescod en Perseverance-skool, is geskuif, terwyl die Gore Browne-opleidingskool gesluit is). Ander wetgewing het Afrikane se beweegruimte beperk en party openbare plekke is gereserveer "slegs vir Europeërs" volgens die Wet op Afsonderlike Geriewe. Die Wysigingswet op Naturellewette het gepoog om kerkgemeenskappe volgens rasselyne te splits – 'n wet wat in 1957 namens alle Anglikane in Suid-Afrika deur aartsbiskop Geoffrey Clayton verwerp is (waarvolgens hierdie apartheidsaspek nooit in kerke soos Kimberley se Sint Cyprianus-katedraal geïmplementeer is nie).[32][33]
Middel-1952 het die weerstand teen apartheid in Kimberley 'n vroeë hoogtepunt bereik met die Uittartingsveldtog. Arthur Letele het 'n groep vrywilligers saamgeroep om die segregasiewette te trotseer deur banke by die Kimberleystasie te beset wat "slegs vir Europeërs" gereserveer was – wat inhegtenisneming en tronkstraf tot gevolg gehad het. Op 8 November dieselfde jaar het die Mayibuye-opstand in Kimberley uitgebreek weens die swak gehalte bier wat in die biersaal bedien is. Die massabakleiery het gelei tot skietvoorvalle en 'n daaropvolgende massabegrafnis op 12 November 1952 by Kimberley se West End-begraafplaas. Die vermeende "ringleiers" Arthur Letele, Sam Phakedi, Pepys Madibane, Olehile Sehume, Alexander Nkoane, Daniel Chabalala en David Mpiwa is ná die slagting aangehou.[34] Die aartsdiaken Wade van die St. Matteus-kerk het as 'n getuie by die daaropvolgende ondersoek die blaam veral op die apartheidsbeleid geplaas – insluitende swak behuising, beligting en openbare vervoer, tesame met "onvervulde beloftes" – wat volgens hom "die toestande teweeggebring het wat tot die onluste gelei het."[35]
'n Latere generasie van antiapartheidsaktiviste in Kimberley het Phakamile Mabija, biskop Graham Chadwick en twee provinsiale premiers ná apartheid, Manne Dipico en Dipuo Peters, ingesluit. Van die ander prominente persone in die stryd teen apartheid met Kimberley-verbintenisse sluit in Robert Sobukwe, stigter van die Pan Africanist Congress, wat na Kimberley verban is (onder huisarres geplaas) ná sy vrylating uit Robbeneiland in 1969. Hy is in 1978 in die stad oorlede. Benny Alexander (1955–2010), wat later sy naam verander het in Khoisan X, was van 1989 af algemene sekretaris van die Pan Africanist Congress en die Pan-Africanist Movement, is in Kimberley gebore en het daar grootgeword.
In 1994 is die Noord-Kaap-provinsie gestig met Kimberley as sy hoofstad. Van die 1940's af was daar ietwat van 'n kwasiprovinsiale infrastruktuur in plek, maar sedert 1994 het Kimberley 'n aansienlike ontwikkeling ondergaan, nadat administratiewe departemente opgerig is en die nuwe provinsiale bestuur in die stad gehuisves word. Die Noord-Kaapse Provinsiale Wetgewer is ontwerp en geleë sodat dit die eens verdeelde stad verenig. Die Kimberley-stadsaal van die hernoemde Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit is vergroot. 'n Nuwe wapen en leuse vir die stad is goedgekeur.
Ná die beëindiging van apartheid het voorheen "slegs vir Europeërs" gereserveerde instellings soos skole uiteindelik toeganklik geword vir almal, net soos voorheen deur die Groepsgebiedewet geskeide voorstede. In die praktyk was hierdie proses een van opwaartse mobiliteit vir diegene wat die duurder opsies kon bekostig, terwyl verreweg die meeste swart mense in die townships bly waar armoed hoog is. Belangrike townshipwoonontwikkelings soos die "Heropbou- en Ontwikkelingsprogram" is geïmplementeer, maar nie sonder kritiek aangaande kwaliteit nie. Kimberley se bevolking het sterk gegroei en verstedeliking word deels aangespoor deur die afskaffing van die Wet op Instromingsbeheer.
Die nedersetting Platfontein is ook by die stad gevoeg wat geskep is toe die ǃKung- en Khwe-gemeenskap voorheen van Schmidtsdrift en oorspronklik van Angola en Namibië die grond in 1996 verkry het. Die grootste deel van die gemeenskap het teen einde 2003 na die nuwe dorp verhuis. Volgens 'n 1998-skatting het Kimberley 'n bevolking van 210 800 gehad met 46 207 huishoudings in die stad. Volgens 'n 2008-skatting het die streek 'n bevolking van 250 000 gehad.
Die kroonkolonie Griekwaland-Wes (van 1873 af) is vanuit die regeringsgeboue in Kimberley bestuur tot en met die anneksasie deur die Kaapkolonie in 1880. Op die vlak van plaaslike regering het Kimberley en Beaconsfield oor afsonderlike stadsrade beskik tot hul samesmelting in 1912 as die stad Kimberley. Daarna het 'n enkele stadsraad die stadsake beheer, terwyl 'n afdelingsraad die omliggende landelike distrik geadministreer het. In die 1980's, in apartheid se laaste dae, is 'n aparte politieke entiteit vir Galeshewe (en Mankurwane) met 'n eie raad tot stand gebring.
Ná apartheid het die Kimberley-stadsraad die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit geword, terwyl die Diamantveld-distriksmunisipaliteit hernoem is in Frances Baard-distriksmunisipaliteit. Kimberley is die setel van die Noord-Kaapse Provinsiale Wetgewer en die Provinsiale Administrasie. Dit verskaf diens aan die mynbou- en landbousektore van die streek.
Die idee om die Noord-Kaap as 'n geografiese entiteit op sy eie te vestig dateer uit die 1940's, maar dit het eers in 1994 'n politieke en administratiewe werklikheid geword met Kimberley as die nuwe provinsie se administratiewe hoofstad. Die provinsiale wetgewer het aanvanklik die ou Kaapse Provinsiale Administrasiegebou by die Burgersentrum beslaan voordat hulle na 'n nuutgeboude Wetgewer getrek het wat doelbewus tussen een van die townships en voormalige wit voorstede opgerig is. Kimberley is ook die setel van die Noord-Kaapse afdeling van die hooggeregshof van Suid-Afrika, wat jurisdiksie oor die provinsie uitoefen.
Sedert die stigting van die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit in 2000 het die African National Congress elke verkiesing gewen en is die regeringsparty in die munisipaliteit, hoewel hul aantal stemme in onlangse verkiesings afgeneem het. Sedert 23 November 2021 dien Kagisho Dante Sonyoni as die uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit en daarmee van Kimberley.[36]
Kimberley is geleë in 'n taamlik plat landskap met geen prominente topografiese kenmerke binne die stadsgrense nie. Die enigste "heuwels" is puinhope wat deur meer as 'n eeu se diamantmynbou opgehoop is. Van die 1990's af is hulle herwin en in die De Beers-myn teruggegooi (teen 2010 was dit tot binne 'n paar tientalle meter van die oppervlak gevul). Sekere van die mynhope in die omgewing van die Groot Gat is tot erfenisgebiede verklaar en moet as deel van Kimberley se historiese industriële landskap bewaar word.
Die omliggende landelike landskap, nie meer as 'n paar minute se rit van enige deel van die stad af nie, bestaan uit relatief plat vlaktes met heuwels, hoofsaaklik van kelderrots (andesiet) in die noorde en noordweste, of Karoo-doleriet in die suide en ooste. In die vlaktes het vlak panne gevorm.
Een van Kimberley se bekende kenmerke is Kamferdam, 'n groot pan in die noorde van die stad en 'n belangrike vleiland met 'n broeikolonie van kleinflaminke. Bewaringsinisiatiewe in die gebied het die doelwit om mense van die stad in aanraking te bring met sy natuurlewe. In 2012 het stygende watervlakke die kunsmatige eiland oorstroom wat gebou is om die broei van flaminke te ondersteun, terwyl in Desember 2013 'n plaaslike uitbreking van voëlbotulisme-bakterieë die dood van honderde voëls veroorsaak het.[37] Die eiland kon sedertdien herstel.
Kimberley het 'n koue halfdroë klimaat (Köppen BSk). Somers is lank, nat en duur. Winters is kort, sag en droog met koue nagte.
Weergegewens vir Kimberley (1991–2020, uiterstes 1877–hede) | |||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Maand | Jan | Feb | Mar | Apr | Mei | Jun | Jul | Aug | Sep | Okt | Nov | Des | Jaar |
Hoogste maksimum (°C) | 43,3 | 43,6 | 38,2 | 37,5 | 31,1 | 27,8 | 27,2 | 31,6 | 36,6 | 42,3 | 39,2 | 40,9 | 43,6 |
Gemiddelde maksimum (°C) | 32,7 | 31,9 | 28,9 | 25,9 | 22,6 | 19,5 | 19,5 | 22,2 | 26,6 | 29,4 | 31,0 | 32,7 | 27,0 |
Gemiddelde temperatuur (°C) | 25,0 | 24,5 | 22,3 | 18,1 | 14,1 | 10,7 | 10,5 | 13,0 | 17,2 | 20,5 | 22,4 | 24,3 | 18,5 |
Gemiddelde minimum (°C) | 17,3 | 17,1 | 14,6 | 10,2 | 5,6 | 1,8 | 1,4 | 3,7 | 7,7 | 11,6 | 13,8 | 15,9 | 10,0 |
Laagste minimum (°C) | 5,7 | 5,6 | 2,0 | −2,8 | −5,7 | −8,4 | −9,9 | −8,5 | −5,5 | −0,7 | 2,2 | 3,8 | −9,9 |
Neerslag (mm) | 72,9 | 67,4 | 62,2 | 38,6 | 15,2 | 8,6 | 2,6 | 3,8 | 9,9 | 31,1 | 39,3 | 52,2 | 404,3 |
Sonskynure (u/d) | 9,9 | 9,2 | 8,6 | 8,7 | 9,1 | 8,8 | 9,2 | 9,7 | 9,6 | 9,8 | 10,4 | 10,7 | 9,5 |
Reëndae (d) | 7,1 | 5,9 | 6,1 | 4,4 | 2,1 | 1,0 | 0,6 | 0,8 | 1,1 | 3,6 | 4,7 | 6,3 | 43,7 |
Humiditeit (%) | 45 | 53 | 57 | 59 | 54 | 53 | 48 | 41 | 36 | 40 | 42 | 42 | 47,5 |
Bron: NOAA,[38][39] Deutscher Wetterdienst (Junie-rekordhoogte, November-rekordlaagte),[40] Meteo Climat (rekordhoogte- en -laagtepunte),[41][42] Suid-Afrikaanse Weerdiens[43] |
Kimberley lok sedert sy vroegste dae mense met uiteenlopende gelowe wat steeds weerspieël word deur die praktiserende geloofsgemeenskappe in die stad. Dit sluit veral denominasies van die Christendom in, maar ook Islam, Judaïsme, Hindoeïsme, Boeddhisme en ander godsdienste. Tradisionele Afrika-godsdienste leef voort as elemente in die Zion Christian Church (ZCC). Kimberley is die setel van die Anglikaanse bisdom van die Kimberley en Kuruman asook van die Rooms-Katolieke bisdom van Kimberley – voorheen die Apostoliese Vikariaat Kimberley in Oranje. Ander denominasies met kerke in die stad is Metodisme, Presbiterianisme, die Kongregasionalistiese Kerk, die Nederduitse Gereformeerde Kerkfamilie, Baptisme, die Afrikaanse Baptiste Kerk), die Apostoliese Kerke en die Pinksterbeweging. Die Sewendedagadventisme se eerste kerk is in Beaconsfield geplant.
Noemenswaardige kunstenaars uit Kimberley sluit in William Timlin en Walter Westbrook, terwyl Philip Bawcombe bekend was vir sy uitbeelding van Kimberley.
Van die skrywers uit die stad of met 'n sterk verbinding met Kimberley is Diane Awerbuck, Benjamin Bennett, Lawrence Green, Dorian Haarhoff, Dan Jacobson, E.P. Lekhela, Z.K. Matthews, Sarah Gertrude Millin, Sol Plaatje, Frank Templeton Prince, Olive Schreiner en A.H.M. Scholtz.
'n Bekende kontemporêre reggae- en ritme en blues-musikus uit Kimberley is Dr Victor.[44]
Van die gedenktekens sluit in:
Op 15 Oktober 1870 het die eerste uitgawe van Kimberley se vroegste dagblad, die Diamond Field, verskyn. Ander historiese koerante uit hierdie tydperk sluit Diamond News en The Independent in. Die huidige belangrikste Engelse dagblad in Kimberley, Diamond Fields Advertiser, word sedert 23 Maart 1878 gepubliseer.[52][53] 'n Plaaslike uitgawe van die Afrikaanse dagblad Volksblad, wat deur Naspers in Bloemfontein uitgegee is, het nuus in Kimberley en die Noord-Kaap gedek, maar die gedrukte weergawe van die dagblad is in 2020 gestaak.
Twee gemeenskapradiostasies is in die 1990's gestig:
Volgens die 2011-sensus het die stad 'n bevolking van 96 977 gehad (tweederdes meer sedert 62 526 in 2001), van wie 41% swart mense, 37% bruin mense en 18% wit mense was. Die res was 2,3% Asiate en 1,1% ander.
Afrikaans is die belangrikste huistaal in die stad wat deur 55 persent van sy bewoners gebesig word. Die ander groot huistale is Tswana (19 persent) en Engels (16 persent).
Soos orals in Suid-Afrika bevat Kimberley townships van die apartheidsera. Galeshewe is die grootste in die Noord-Kaap.
Jaar | Totaal | Bruines | Swartes | Wittes | Asiërs | Nie gespesifiseer |
---|---|---|---|---|---|---|
2001[54] | 62 526 | 24 422 | 12 118 | 24 683 | 1 303 | — |
2011[55] | 96 977 | 35 590 | 40 218 | 17 841 | 2 226 | 1 102 |
Jode het na Kimberley gestroom ’n die ontdekking van diamante in 1870 en reeds in 1871 is die eerste gemeente, die Griekwaland-Wes- Hebreeuse Gemeente gestig. Die eerste sinagoge is vyf jaar later opgerig. Onder die eerste intrekkers was Barney Barnato, sy broer Harry en sy neef sir David Harris. Die eerste tydelik rabbyn was eerw. Joël Rabinowitz, wat ’n sy aftrede uit Engeland na Suid-Afrika teruggekeer het. Die eerste heeltydse rabbyn was Meyer Mendelsohn. Tot die stigting van Johannesburg in 1886 het Kimberley die tuiste van Suid-Afrika se naasgrootste Joodse gemeenskap, wat 2 000 siele op sy hoogtepunt getel het. Die stad het vyf Joodse burgemeesters gehad: William Sagar (1906–08), Ernest (later sir Ernest) Oppenheimer (1913–15), Bernard Cohen (1931–32), Gustave Haberfeld (1953–55, 1966–67), Lionel Jawno (1959–61) en C. Sussman (1964–65). Sir David Harris, wat ook bevelvoerder was van die Kimberley-dorpswag tydens die Boerebeleg tydens die Tweede Vryheidsoorlog, was Volksraadslid vir Kimberley en Griekwaland-Wes van 1897 tot 1929. Die ontdekking van goud het baie Jode uit Kimberley na Johannesburg laat verhuis. Teen 1970 het die Joodse bevolking tot 600 afgeneem en teen 2005 het minder as 50 Jode in die stad oorgebly.[56]
Suid-Afrika se eerste lugvaartskool waar vlieëniers opgelei is vir die voorgestelde Suid-Afrikaanse Lugvaartkorps is in 1913 in Kimberley gestig.[57] Dit is Paterson se Lugvaartsindikaatskool vir Vlug genoem en word by die Lugvaartpioniersmuseum ('n replika van die eerste Compton Patterson-tweedekker word daar bewaar) herdenk, geleë naby die Kimberley-lughawe. In die 1930's het Kimberley gespog met die beste naglandingsfasiliteite op die Afrikavasteland. In 1934 is daar 'n groot lugbyeenkoms gehou. In die oorlogsjare het die Unieverdedigingsmag toesig gehou oor die Kimberley-lughawe en dit is deur die 21 Vliegskool vir die opleiding van vegvlieëniers bestuur.[31]
Vandag bedien die Kimberley-lughawe die gebied met gereelde verbindings na Kaapstad en Johannesburg.
In 1872 is die bouwerk aan die spoorverbinding na Kimberley langs die Kaapkolonie se kuslyn onder die bestuur van die Kaapse Regeringspoorweë aangepak.[58] Die spoorweg van Kaapstad na Kimberley is in 1885 voltooi en dit het die vervoer van beide passasiers en goedere versnel.[31] Die spoorweg het Kimberley aan goedkoperbronne van graan en ander produkte voorsien, maar ook met verskaffers van steenkool, waardeur een van die plaaslike invloede was om die (veral Afrika-) handel met vars produkte en vuurmaakhout in Kimberley se hinterland te ondermyn.[59] 'n Ander belangrike aspek in die spoorweggeskiedenis was sy rol in die vinnige verspreiding aan die begin van die Spaanse griepepidemie in 1918.
Die spoorwegstelsel sou Kimberley uiteindelik met Port Elizabeth, Johannesburg, Durban en Bloemfontein verbind. Die hoofaansluiting by De Aar in die Karoo het die spoorlyne uit die vroeë 20ste eeu met Upington (later tot in Namibië) en met Calvinia verbind. Vanaf die 1990's was daar 'n afname in die gebruik van die spoorweë.
Vandag word passasierstreindienste na en van Kimberley verskaf deur Transnet se Shosholoza Meyl met verbindings in 'n suidelike rigting na Kaapstad en Gqeberha asook in 'n noordelike rigting na Johannesburg. Luukse spoorwegervarings word op die hoof-noord-suidlyn deur die Bloutrein en Rovos Rail verskaf. Die sentrale spoorwegstasie van die stad is die Kimberley-spoorwegstasie.
Wa- en koetsroetes is spoedig uitgebrei namate die stormloop na die diamantvelde momentum verkry het. Twee van die hoofroetes was vanaf die Kaap en vanaf Port Elizabeth, die destydse naaste seehawens. Kontemporêre verslae van die 1870's beskryf die haglike toestande van sommige van die paaie en veroordeel die afwesigheid van brûe oor die groot riviere.[60] Van die middel-1880's af was die roete deur Kimberley en Mafeking (nou Mahikeng) die hoofas van Britse koloniale beheer en in 1890 is vanaf Kimberley langs daardie roete die Pionierskolom vir die kolonisasie in Rhodesië ontplooi. Vandag loop die sentrale hoofroete na die noorde, die N1 van Kaapstad na Johannesburg, egter deur Bloemfontein en nie deur Kimberley nie. Kimberley is geleë by die kruising van die nasionale paaie N12 en N8.
Die stad beskou homself as 'n belangrike toeristebestemming, die "stad wat skitter", en spog met 'n verskeidenheid museums en besienswaardighede. Dit is ook 'n poort na ander Noord-Kaapse bestemmings, insluitende die Mokala- Nasionale Park, natuurreservate en talle wildplase of jaghuise, asook historiese terreine in die streek.
Kimberley het vername vergaderings en konferensies aangebied en 'n groot lokaal, die Mittah Seperepere-konvensiesentrum, en ander konferensiegasheerfasiliteite ontwikkel. Onlangse byeenkomste sluit in die stigtingsvergadering van die Kimberley-proses (2000) en 'n opvolgvergadering van hierdie organisasie in 2013 oor die beëindiging van die bloeddiamanthandel, en die Internasionale Inheemse Volke-beraad oor Volhoubare Ontwikkeling (2002).
Onderwys is 'n belangrike sektor in Kimberley se sosiale en ekonomiese lewe. Kimberley beskik oor talle leerinstellings, van kleuterskole tot universiteite en kolleges. Klasse word van skool tot skool in verskillende tale aangebied, met sommige wat selfs al hul klasse in twee tale onderrig. Die onderrigtale is veral Afrikaans, Engels en Tswana.
Die Sol Plaatje-universiteit het in 2014 in Kimberley geopen en het aanvanklik slegs 145 studente geakkommodeer. Tydens die universiteitsnaam se aankondiging het oudpresident Jacob Zuma na die ontwikkeling van akademiese nisareas verwys wat in Suid-Afrika nie bestaan het nie of onderverteenwoordig was. "Gegewe die ryk erfenis van Kimberley en die Noord-Kaap in die algemeen," het Zuma gesê, "word beoog dat Sol Plaatje in erfenisstudies sal spesialiseer, insluitende onderling gekoppelde akademiese velde soos museumbestuur, argeologie, inheemse tale en restourasie-argitektuur."[61][62][63][64]
Kimberley was die bakermat van Suid-Afrika se industrialisering in die laat 19de eeu toe die swaartepunt van die plaaslike ekonomie van landbou na mynbou begin verskuif het. 'n Beslissende faktor by hierdie ontwikkeling was trekarbeid waarby 'n groot aantal swart mense uit die hele Suider-Afrika in die plaaslike myne se behoefte aan mannekrag voorsien het. Kimberley se trekarbeiderstelsel het later as voorbeeld vir die mynboubedryf aan die Witwatersrand en ander sektore gedien.[31]
Kimberley het die voortou by die ekonomiese en tegnologiese ontwikkeling geneem. Dit was hier waar die eerste effektebeurs in Suid-Afrika, die Koninklike Kimberley Effektebeurs (Kimberley Royal Stock Exchange), sy deure op 2 Februarie 1881 geopen het.[31] Kimberley was op 2 September 1882 selfs die eerste stad in die Suidelike Halfrond waar elektriese straatverligting geïnstalleer is (alhoewel elektriese lig tegelykertyd in Kaapstad se Tafelbaaihawe en in die Parlementsgebou geïnstalleer is) – terwyl Londen se strate nog met gaslampe verlig is.[65][66][67][68] Die eerste kragsentrale, wat privaat huise en winkels van elektrisiteit voorsien het, is op 15 Oktober 1900 deur burgemeester Oliver plegtig ingewy. As gevolg van die Anglo-Boereoorlog is die aflewering van die tegniese toerusting met agt maande vertraag.
Die ekonomiese belangrikheid van die stad is in 1892 deur die besluit bevestig om hier in 1892 een van die eerste Suid-Afrikaanse en internasionale uitstallings te hou. Dié skou, wat ook baie belangstelling in die buiteland gewek het, is op 8 September deur die destydse goewerneur van die Kaapprovinsie, sir Henry Loch, amptelik geopen. Tydens die uitstalling is kunswerke, skilderye uit die koninklike versameling van koningin Victoria asook mynboutoerusting vertoon.
Nog 'n gebied, waarop Kimberley 'n baanbrekersrol vervul het, was onderwys. Suid-Afrika se eerste mynbouskool is hier in 1896 geopen en later na Johannesburg verskuif waar dit die basis vir die latere Universiteit van die Witwatersrand sou vorm. Die mynbouskool se Pretoria-kampus het later tot die Universiteit van Pretoria gegroei. Studente het hul eerste twee studiejare in kolleges elders in die land deurgebring, in Kaapstad, Grahamstad of Stellenbosch, hul derde jaar in Kimberley en die vierde jaar in Johannesburg.
Kimberley het talle internasionale krieketspelers opgelewer wat 'n bydrae gemaak het tot die Suid-Afrikaanse krieketgeskiedenis. Van hulle sluit in Frank (Nipper) Nicholson, Xenophon Balaskas gebore in Kimberley aan Griekse ouers en Ken Viljoen, Ronnie Draper en in onlangse tye Pat Symcox en die Proteas-afrigter Mickey Arthur. Tydens die Krieketwêreldbeker 2003 is Kimberley se De Beers Diamond Oval vir drie wedstryde ingespan.
Frank Dobbin, genoem Uncle Dobbin, was 'n lid van Paul Roos se oorspronklike Springbokspan tydens hul 1906/07-toer na die Britse Eilande. Sy nagedagtenis leef voort in sy ou koloniale stylhuis in Roperstraat met 'n eenvoudige koperplaatjie met die naam "Dobbin" op. Latere Springbokspelers uit Kimberley sluit in Ian Kirkpatrick, Tommy Bedford en Gawie Visagie, broer van die Springbok-losskakel Piet Visagie. Kimberley huisves die Griekwas wat die Curriebeker drie keer kon wen (in 1899, 1911 en 1970). Ronnie Bauser, 'n voormalige burgemeester van Kimberley, was betrokke in Griekwasrugby van 1950 tot 1971.[69]
Die Suid-Afrikaanse sokkerspelers Richard Henyekane en sy broer Joseph, asook Jimmy Tau is in Kimberley gebore.
Karen Muir, gebore in Kimberley, het in 1965 die jongste persoon ooit geword om 'n wêreldrekord in enige sportsoort te verbeter. Hierdie ouderdomsgroeprekord staan tot vandag toe.[70] Sy het dit in Augustus 1965 op die juniorwêreldkampioenskappe in Blackpool, Engeland, in die 110 m-rugslag op twaalfjarige ouderdom 12 opgestel. Sy het voortgegaan om baie meer wêreldrekords te verbeter, maar sy is 'n rol in wêreldswem geweier toe sy die geleentheid verloor het om haar land op die Olimpiese Somerspele 1968 in Meksikostad te verteenwoordig omdat Suid-Afrika uitgesluit is weens sy rasse-apartheidsbeleid. Kimberley het ook gesien hoe 'n wêreldrekord verbeter is in die munisipale swembad wat nou Karen Muir se naam dra. Dit is opgestel deur Johannesburg se Anne Fairlie wie Karen Muir en Frances Kikki Caron in 'n wêreldrekordtyd verslaan het.
Charl Bouwer, die Paralimpiese swemmer wie goud gewen het in die 50 m-vrystyl op die Paralimpiese Somerspele 2012 in Londen, is in Kimberley gebore.[71]
Die Suid-Afrikaanse atleet en goue medaljewenner op die Olimpiese Somerspele 1920, Bevil Rudd, is in Kimberley gebore. Elsie McDonald was 'n bekende rolbalspeler.
Die eerste Maloof Money Cup-skaatsplankrywêreldkampioenskap is in September 2011 en weer in 2012 in Kimberley beslis. Toe die Maloof-familie se borgskap in 2013 beëindig is, is die toernooi hernoem in die Kimberley-diamantbeker.[72]
Barkly-Wes | Warrenton | Boshof | ||
Campbell | Bloemfontein | |||
Kimberley | ||||
Douglas | Ritchie | Koffiefontein |