Die vyf name van die farao's is ’n gebruik wat deur die konings van Antieke Egipte aangeneem is. Dit simboliseer wêreld- en heilige mag en dui ook op die sending van die betrokke farao (dit kon selfs tydens sy bewind verander). Die volle name is eers in die Middelryk in gebruik geneem en het geduur tot omtrent met die oorname deur die Romeinse Ryk.
Horusnaam
Die Horusnaam (hor) is die oudste naam. Dit het bestaan uit ’n afbeelding van ’n paleis (serech) met die valkgod Horus bo-op. Die naam van die farao het in die paleis gestaan. Horus beskerm hier die koning se naam. Die eerste farao's (van die Predinastiese Periode en die 1ste, 2de en 3de Dinastie) het dit al gebruik.
Nebty-naam
Die Nebty (letterlik: twee dames) is ’n naam wat ingestel is nadat Bo- en Neder-Egipte verenig is en bestaan uit die twee godinne van Egipte wat die eenheid moes waarborg:
Die naam van die goue Horus bestaan uit ’n valk (Horus) wat sit op die goudsimbool (neboe). Daaragter kom die naam van die farao. Dié naam is in gebruik geneem ná die vereniging toe daar ’n sterk invloed van Horus was. Die betekenis van dié naam is nie heeltemal seker nie, maar daar is twee teorieë:
’n Oorwinning deur Horus oor die god Seth. Die goud kan ’n simbool wees van die oorwinning.
Die goud kan die ewigheid van Horus uitbeeld.
Praenomen
Dit is die troonnaam wat die farao aangeneem het wanneer hy die troon bestyg het. Hy het dit saam met die nomen gebruik. Dit word voorafgegaan deur twee simbole: ’n riet (nesoet) en ’n by (bit) wat die twee lande simboliseer. Daarby staan die farao se naam in ’n cartouche. Die cartouche bestaan uit ’n tou wat om die naam gespan is. Later is twee aparte cartouches gebruik.
Nomen
Dit is die naam wat die farao by geboorte gekry het, maar dit was gewoonlik die belangrikste naam, byvoorbeeld Ramses. Dit het bestaan uit ’n gans (sa, seun) en ’n son (ra, van die songod Ra) met die naam van die farao in ’n cartouche.
Funksie van die naam
Elke naam het sy eie funksie gehad. Saam het hulle gedui op ’n soort politieke program. So het Mentoehotep II ("Mentoe is tevrede") homself ook S'ankh.ib.tawy genoem: "Hy wat weer lewe (ankh) in die hart (ib) van die Twee Lande (tawy) bring". Hy het probeer om die land weer te verenig en die sentrale gesag te herstel ná die verdeeldheid van die Eerste Tussenperiode. Hy het homself ook Neb.hetep.Re genoem ("Seun van Ra") asook Netjeri.hedjet (Goddelik is die Wit Kroon). Met die eerste naam eis hy erkenning van die noorde omdat Ra die god van Heliopolis was, en met die laaste naam maak hy dit duidelik dat hy uit die suide kom en daar reeds die mag gehad het.